Gewese Cheetahs-speler kry 21 in Franse liga

Die gewese Blou Bull Riekert Hattingh se 24-tal verlede week in die Amerikaase Middewesteliga is hom byna Sondag in die Franse Top14-liga deur ʼn gewese Cheetah nagedoen.

Dié het 21 punte aangeteken.

Willie du Plessis (losskakel) se kordaatstuk het Montpellier gehelp om met 61-22 teen Bayonne te wen.

Hy het self ʼn drie gedruk en agt van sy span se nege drieë verdoel.

Twee daarvan is deur die Springbok Frans Steyn op binnesenter gedruk.

Die gewese Bokafrigter Jake White se span kan nou nie meer uit die liga se uitspeelronde gehou word nie.

♦ Die Bok Bryan Habana (linkervleuel) het Saterdag ʼn drie vir Toulon in sy sege van 23-14 oor Castres aangeteken.

Rory Kockott (skrumskakel), wat Superrugby vir die Lions en die Sharks en toestrugby vir Frankryk gespeel het, het ʼn doelskop vir Castres behaal.

♦ Nog ʼn Bok, Morné Steyn (plaasvervanger), het twee doelskoppe tot Stade Francais se oorwinning van 51-16 oor Pau bygedra.

Engelse Premierliga

♦  Nick Fenton-Wells, gewese flank van die Stormers, het Sondag ʼn drie vir Bristol teen Wasps gedruk.
Wasps het 36-21 gewen.

♦ ʼn Derde Bok wat die naweek in een van die Europese klubreekse agter die doellyn gaan kuier het, was Wynand Olivier (senter) wat Saterdag ʼn drie vir Worcester in sy sege van 25-19 oor Bath gedruk het.

♦ David Ewers, ʼn flank van Exter, het Vrydag sy span se eerste drie in sy oorwinning van 39-26 oor Harlequins in die Engelse Premierliga gedruk.

Die Zimbabwies-gebore Ewers het reeds vir die Engelse naasbestes, die Saxons, uitgedraf.

Tim Swiel (plaasvervanger) het Quins se telling in die 80ste minuut met ʼn doelskop afgerond.

Swiel is ʼn gewese SA Skolespeler wat Superrugby vir die Sharks gespeel het.

Europese Pro12-liga

♦ Kayle van Zyl (regtervleuel) het Vrydag een van Zebre van Parma se twee drieë in die Europese Pro12-liga teen die Skotse superklub Glasgow Warriors gedruk.

Die Skotte het die wedstryd met 45-10 gewen.

Van Zyl het in 2013 en 2014 vir die OP Kings gespeel.

♦ In ʼn stryd tussen twee Ierse provinsies het die soveelste Bok, Zane Kirchner (heelagter), Saterdag ʼn drie vir Leinster teen Connacht gedruk.

Leinster het die kragmeting met 37-24 gewen.

Danie Poolman (linkervleuel), ʼn gewese Stormers-speler, het ʼn drie vir Connacht, die verdedigende kampioen, gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

‘n Flou ‘regte’-ras-Springbokspan met die ‘regte’ afrigters gaan uiteindelik verloor teen eie spelers wat moes uitwyk vir oorlewing. Rugby-unies is glo ook nie so onskuldig nie. Die Cheetah’s is glo na bewering op die afdraande pad weens ‘n glo ou, rigiede en te magtige bestuur wat spelers tot trane (en ook tot drank word beweer) dryf en uiteindelik glo daartoe dryf om die tasse te pak. Is dit waar? Op grondvlak is SA-rugby se moed skynbaar gebreek en nou word dit sakeondernemings… wat groot gekruip mag vra…

japie ·

die europese klub rugby is maar swak. baie min van hulle sou superrugby speelkans kry. die kinders het geswerf van span tot span. sou seker net by die kings en Cheetas reserwes gewees het.

die ander is veterane, Morne steyn, habana, wynand olivier, cockett.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.