ʼn Gewese breier van Grens is Kenia se nuwe afrigter in die plek van die oudspeler van die Westelike Provinsie en Boland, Jerome Paarwater.
Die Nieu-Seelander Ian Snook, wat Grens in die Curriebekerseisoene van 1996 en 1997 afgerig het, is die nuwe afrigter waarop Kenia sy Wêreldbeker-hoop vestig.
Paarwater, wat onder meer in 1988, saam met die Suid-Afrikaanse raadspan, die Pioniers, deur Suid-Amerika getoer het, is in Desember in die pad gesteek nadat hy die Simbas vyf jaar gebrei het, en hulle van 31ste tot 29ste op die wêreldranglys gevorder het.
Sy ontslag in Desember het gekom skaars twee weke nadat Kenia in Hongkong al sy wedstryde in Wêreldrugby (WR) se Beker van Nasies teen Rusland, Hongkong en Chili (almal hoër as Kenia op die ranglys) verloor het.
Die Keniaanse Rugbyunie (KRU) het geen rede vir sy afdanking verstrek nie, maar daar is in die media berig dat hy in ʼn relletjie met van die KRU-raadslede betrokke was.
Behalwe in Nieu-Seeland en Suid-Afrika het Snook ook in Australië, Engeland, Ierland, Italië, Kroasië en Laos (die nasionale span) afgerig.
In die dae voor Superrugby het hy die Nieu-Seelandse provinsies Taranaki en Wairarapa-Bush as losskakel verteenwoordig.
As krieketspeler word hy om die “verkeerde” rede onthou.
Die legendariese Ian Botham het in die wedstryd teen die Sentrale Distrikte in Palmerston North, op Engeland se 1983-84-toer na Kiwiland, 32 lopies van Snook se enigste boulbeurt af gemoker. Dis blykbaar ʼn wêreldrekord vir ʼn enkelbeurt-boulskof in eersteklaskrieket.