ʼn Gewese speler van die destydse Noord-Transvaal, en die grondlegger van ʼn rugbydinastie wat dit 70 jaar later steeds in Suid-Afrikaanse rugby laat geld, is Donderdag oorlede.
Moolman Mentz (91) is die vader van Hein Mentz, ʼn uitvoerende komiteelid van die SA Rugbyunie (Saru), ʼn jare lange president van die Mpumalanga-rugbyunie, en ʼn gewese Suidoos-Transvaalse vleuel.
Hein se seuns Henno en MJ het onderskeidelik die Springbokke en die Blitsbokke verteenwoordig. Laasgenoemde is ʼn hulpafrigter van die Pumas.
Mentz sr. het vir Garnisoen (die latere Weermag) gespeel toe hy Noord-Transvaal in 1951 twee keer as senter verteenwoordig het.
Hy het in 1945 as 17-jarige skoolseun senter vir die Suidoos-Transvaalse Subunie (destyds deel van die toentertydse Transvaalse Rugbyunie) in al dié span se wedstryde gespeel –met van een van sy onderwysers as sentermaat.
Mentz was eintlik die Hoërskool Ermelo se losskakel, met die latere Bokslot Ernst Dinkelmann sy skrumskakel!
Hy het hom later by die Oostelike Rugbyklub in Pretoria aangesluit, en het die Uile ook as bestuurslid en afrigter gedien.
Hy het ʼn leidende rol in Pretoriase regskringe gespeel voor hy die politiek betree en Ermelo van 1986 tot 1994 in die Volksraad verteenwoordig het. Daarna was hy tot 1999 ʼn lid van die Mpumalanga-wetgewer.
Toe hy en Willie Lubbe (wat verlede jaar oorlede is) in 1958 Oostelike se o.19s afgerig het, het sowel die A- as die B-span die ligas sonder die studentespanne gewen – hoewel daar nooit meer as 33 spelers was waaruit die twee spanne gekies kon word nie.
ʼn Gedenkdiens word Sondag in Ermelo vir Mentz gehou.