Gewese SA A-speler kry tweekuns in Engelse liga

ʼn Gewese Suid-Afrika A-speler, die seun van ʼn Springbok, het Saterdag ʼn tweekuns in die Engelse Premierliga behaal.

Ruan Ackermann (agsteman) se drieë in die 15de en 26ste minuut het Gloucester ʼn voorsprong van 14-0 teen Bath besorg.

Laasgenoemde het egter teruggeveg, en die twee spanne het uiteindelik met 31-31 gelykop gespeel.

Die Bok Johan Ackermann, Ruan se pa, rig Gloucester af.

♦ ʼn Drie in die 80ste minuut, deur die gewese Stormers-flank Don Armand, het die seël op Exeter, die Engelse Premierliga-kampioen, se sege van 42-31 teen Wasps in dié reeks geplaas.

Franse Top14-liga

♦ Die Springbokke Johan Goosen (twee strafdoele) en Ruan Pienaar (een) het Saterdag al Montpellier se punte in sy gelykop spel van 9-9 teen Bordeaux Bègles in die Franse Top14-reeks aangeteken.

♦ Die oud-Bolander en Franse toetsflank Bernard le Roux het een van Racing 92 se drieë in sy sege van 59-7 teen Agen gedruk.

♦ Die Bok Lourens Adriaanse het Sondag Pau se derde drie gedruk in sy oorwinning van 24-21 oor Grenoble.

♦ Toulon het die Franse kampioen, Castres Olimpique, met 28-27 getroef, met Rory Kockott, Franse toetsskrumskakel en gewese Superrugby-speler van die Lions en die Sharks, wat ʼn drie vir die verloorspan gedruk het.

Franse Pro D2-liga

♦ In die Franse Pro D2-liga het Pieter-Steyn de Wet (losskakel) Vrydag agt punte met ʼn doelskop en twee strafdoele vir Aurillac behaal, in ʼn wedstryd wat Soyaux-Angoulême met 23-13 gewen het.

De Wet het Curriebeker-rugby vir die Oostelike Provinsie Kings gespeel.

♦ In die kragmeting tussen Montauban en Mont de Marsan, wat laasgenoemde met 25-20 gewen het, het Claude Dry (slot), van die verloorspan, hom ʼn geel kaart op die hals gehaal.

Hy die Sharks-vyftiental in die Curriebeker-opstelronde verteenwoordig.

Pro14-liga

♦ Braam Steyn (flank), ʼn Italiaanse toestspeler, wat op sy dag vir SA o.20 gespeel het, het ʼn drie vir Benetton Treviso in die Pro14-liga teen die Walliese streekspan Cardiff Blues gedruk.

Die Italiaanse klub het met 27-25 gewen.

♦ Nóg ʼn gewese Suid-Afrika A-speler, Francois Brummer (banklosskakel), het ʼn doelskop vir die Italiaanse klub Zebre (Parma) oorgeklits in sy nederlaag van 13-32 teen die Ierse provinsie Connacht.

Engelse Kampioenskap

♦ Die Springbok Pat Cilliers (vaskopstut) het ʼn drie vir London Irish in sy groot oorwinning van 52-20 teen Nottingham in die Engelse Kampioenskap gedruk.

♦ Graham Geldenhuys, Jersey se bankagsteman, is in die laaste minuut met ʼn geel kaart gestraf in sy span se nederlaag van 22-26 teen Bedford.

Hy het vir die Sharks-vyftiental in die opstelronde van die Curriebeker gespeel.

Japanse Topliga

♦ In die Japanse Topliga het Jake White, ʼn gewese Bokafrigter, se Toyota Verblitz vir NEC Green Rockets met 29-5 verslaan.

Clinton Swart het met twee doelskoppe en ʼn strafdoel vir die wenspan geslaag, en Lionel Cronjé met ʼn doelskop.

Swart het Curriebeker-rugby vir Griekwas en Superrugby vir die Cheetahs gespeel. Cronjé het Suid-Afrika op o.20-vlak en later die Stormers, die Bulls, die Lions en die Sharks in Superrugby verteenwoordig.

♦ʼn Derde SA A-speler, Fred Zeilinga, het drie strafdoele (nege punte) vir Canon Eagles in sy gelykop spel met 19-19 teen Honda Heat oor die dwarslat gelig.

♦ Harold Vorster (buitesenter) het ʼn drie in Panasonic Wildknights se wegholsege van 62-17 oor Coca-Cola Red Sparks gedruk.

Hy het vir SA o.20 en die Lions gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gemaskerde Sopbeen ·

Nou wanneer kom speel ‘n besoekende wit span, wat NET uit oud Suid-Afrikaners bestaan, hier teen ons Bontebokke?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.