Gewese Sharks-speler kry 16 in Franse reeks

ʼn Gewese Sharks-speler het het 16 punte vir sy Franse klub in die jongste ronde van die Pro D2-liga behaal.

Tristan Tedder het 16 van Bayonne se punte in sy sege van 26-21 op die telbord geplaas.

Dié gewese speler van die Sharks-vyftiental in die opstelronde van die Curriebeker, het met twee doelskoppe en vier strafdoele geslaag.

♦ In die Franse Top14-liga het die Springbokke Ruan Pienaar en Jan Serfontein saam 14 van Montpellier se punte in sy oorwinning van 29-17 oor Toulon aangeteken.

Serfontein het ʼn drie gedruk, en Pienaar het met drie doelskoppe en `n strafdoel geslaag.

♦ Die Franse toetsskrumskakel Rory Kockott het al nege Castres se punte teen Stade Français met drie doelskoppe behaal.

Laasgenoemde het die Top14-kampioen met 14-9 geklop.

Kockott het Superrugby vir die Lions en die Sharks gespeel.

Franse Pro D2-liga

♦ Hansie Graaff (losskakel) het twee strafdoele vir Massy in sy nederlaag van 18-22 teen Bressane behaal.

Hy het Curriebeker-rugby vir die Griffons en die Suidwestelike Distrikte gespeel.

♦ Montauban se flank Vleis Engelbrecht, wat Superrugby vir die Kings en die Bulls gespeel het, het ʼn geel kaart op die lyf geloop in sy span se nederlaag van 15-28 teen Aurillac.

Engelse Premierliga

♦ Gerrit-Jan van Velze (agsteman) en die Bok Francois Venter (buitesenter) was tussen Worcester se driedrukkers toe dié klub vir Bristol met 52-7 opgedreun het.

Van Velze het Superrugby vir die Bulls gespeel, en Venter, eweneens ʼn oud-Bulls-speler, het later die Cheetahs in dieselfde reeks aangevoer.

♦ Die gebore Zimbabwiërs Don Armand en Dave Ewers (albei flanke) het elk ʼn drie vir Exeter in sy sege van 39-24 oor Bath gedruk.

Armand, wat Superrugby vir die Stormers gespeel het, het sedert verlede jaar in twee toetse vir Engeland gespeel; Ewers het al vir Engeland se naasbestes, die Saxons, uitgedraf.

♦ ʼn Gewese Stormers-speler, David Ribbans (slot), het ʼn drie vir Northampton gedruk in sy nederlaag van 15-23 teen Leicester.

♦ Die Springbok Rohan Janse van Rensburg (binnesenter) het een van Sale se drie drieë in sy oorwinning van 20-7 oor Newcastle gedruk.

♦ Nóg ʼn Bok, Juan de Jongh, het ʼn drie vir die klub Wasps in sy nederlaag van 21-35 teen die Suid-Afrikaanse afrigter Johan Ackermann se Gloucester gedruk.

Pro14-liga

♦ CJ Stander, ʼn gewese Bulls-speler, wat toetsrugby vir Ierland en die Britse en Ierse Leeus speel, het ʼn drie vir Munster teen Leinster gedruk, maar laasgenoemde het die botsing tussen die twee Ierse provinsies met 30-22 gewen.

♦ Johan Meyer (flank), wat Curriebeker-rugby vir die Sharks gespeel het, het ʼn geel kaart op die lyf geloop in die Italiaanse klub Zebre (Parma) se nederlaag van 8-36 teen die Skotse superklub Glasgow Warriors.

♦ Dieselfde lot het die Bokflank Marcell Coetzee te beurt geval in Ulster se nederlaag van 15-22 teen nóg ʼn Ierse provinsie, Connacht.

Engelse Kampioenskap

♦ Koch Marx (regtervleuel) en Janco Venter (agsteman) het drieë vir Jersey in sy oortuigende sege van 47-22 oor Doncaster gedruk.

Venter is ʼn Namibiese toetsspeler, en Marx ʼn gewese SA Skole-speler, wat Superrugby vir die Lions gespeel het.

Harvey Biljon, wat die Sharks om onderouderdomvlak verteenwoordig het, rig Jersey af.

♦ Pat Howard (binnesenter) het ʼn drie gedruk, en Ryan Smid (agsteman) ʼn geel kaart gekry in Ealing Trailfinders se sege van 32-25 oor Hartpury College.

Howard is ʼn gewese SA o. 20-speler, wat Superrugby vir die Stormers gespeel het. Smid het Curriebeker-rugby vir die Westelike Provinsie gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.