Gewese Springbok gaan Pumas help afrig

Brent Janse van Rensburg en CJ van der Linde. (Foto: Mpumalanga Rugby)

Die Pumas het ʼn gewese Springbok as hulpafrigter vir vanjaar se Curriebekerseisoen nader getrek.

CJ van der Linde, wat die Bokke in 75 toetse as stut verteenwoordig het, is die span se nuwe voorspelerafrigter, luidens ʼn verklaring wat die bond Dinsdag in Nelspruit uitgereik het.

Hy vervang Hein Kriek, wat Phil Pretorius gaan help om die Tsjeggiese toetsspan af te rig.

Die 36-jarige Van der Linde het sy rugbyloopbaan verlede jaar by die Franse klub Montpellier afgesluit.

Jake White, destyds Montpellier se afrigter, was die Bokafrigter en Van der Linde ʼn spanlid toe Suid-Afrika in 2007 die Wêreldbeker gewen het.

Laasgenoemde sê hy is gretig om sy bande met die Pumas se hoofafrigter, Brent Janse van Rensburg, te hernu, nadat dié hom by die OP Kings afgerig, en hulle later saam die Oos-Kaapse span gebrei het.

Pieter Burger, Mpumalanga Rugby se hoof uitvoerende beampte, sê Van der Linde se spesialiskennis van die vaste fasette en veral die skrums sal van onskatbare waarde in die Curriebekerreeks wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Snoefels ·

Ek weet dit het nou niks met die prys van eiers te doen nie, maar is die spelers in die super rugby spanne nie nou beskikbaar vir die currie beker span nie ? Of is daar nuwe reels of iets dat hulle moet rus en/of mag nie vir hulle speel nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.