Gewese Springbokvleuel sterf aan kanker

Darius Botha (Foto: Facebook)

ʼn Gewese Springbokvleuel op die betogergeteisterde toer van 1981 na Nieu-Seeland is ná ʼn stryd teen maagkanker oorlede.

Darius Botha (62), broer van die legendariese Naas Botha, het sy Bokkleure op daardie toer verwerf en in die eerste toets teen die All Blacks gespeel.

Hy het in nog sewe wedstryde op die toer gespeel en drie drieë gedruk.

Darius het Noord-Transvaal van 1976 tot 1982 in 61 wedstryde as vleuel en senter verteenwoordig, en het benewens klubrugby vir Tukkies ook vir Polisie gespeel.

Botha was lid van die Noord-Transvaalse spanne wat van 1978 tot 1982 die Curriebekereindstryd betwis het, was drie keer (1978, 1980 en 1981) aan die wenkant, en die span het dit in 1979 met die Westelike Provinsie gedeel.

Hy het ook die Junior Springbokke en die SA Universiteite verteenwoordig.

Botha het sowat twee jaar gelede sy doktorsgraad in die teologie aan die Universiteit van Pretoria behaal. Dit het gehandel oor hoe die prediking gebruik kan word om mense by wie kanker gediagnoseer is te help om met sin en lewensvreugde te leef.

Hy was predikant van die NG gemeente Kroonstad-Oos toe sy siekte hom genoop het om die bediening te laat vaar, en ter wille van die behandeling na Randburg te verhuis.

Twee van sy kinders is ook aan die siekte oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Hy sal baie gemis word , veral as leraar. Ek het in sy kerkraad gedien en hy het vir my en my vrou in die huwelik bevestig. So n nederige en gewilde mens en sy preke was altyd besielend en dit was so aangenaam om hom te kon leer ken in die Laeveld. Ek sal altyd ook sy puik sin vir humor onthou.

Johann Kluyts ·

Darra was een van die bestes, op en van die veld af. Sy lewe was ‘n groot beproewing maar daar was altyd tyd en ‘n glimlag vir almal. Gaan jou mis maar weet jy is op ‘n goeie plek.
Lekker rus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.