Gewese Witsie behaal 17 toetspunte vir Israel

Ori Abutbul – 17 punte. (Foto: Facebook)

ʼn Gewese speler van die Universiteit van die Witwatersrand het Saterdag al 17 Israel se punte teen Malta in Afdeling 1 Suid van die Rugby Europa-kampioenskap behaal.

Ori Abutbul het twee drieë gedruk, albei verdoel en ook ʼn strafdoel deur die pale gejaag.

Malta het egter die kragmeting by die Wingate-sportinstituut naby Natanja, Israel, met 24-17 gewen.

Die webwerf Haaretz het in sy voorskou van die wedstryd gesê ʼn groot taak rus op die span se twee topspelers, Abutbul en Uri Gaiel (agsteman), wat albei pas terug uit Suid-Afrika is, waar hulle vir Wits gespeel het.

Abutbul se Wits-bande herinner onwillekeurig aan die dae toe Wits met losskakels van Springbokgehalte gespog het. Clive Ulyate het as Witsie teen die Leeus van 1955 gespeel, en hoewel Alan Menter ʼn Tukkie was toe hy in 1968 saam met die Bokke Frankryk toe is, het hy voorheen lank vir Wits en Transvaal gespeel.

♦ In ʼn botsing om die Rugby Europa-trofee (RET), in ʼn stryd tussen twee spanne met Suid-Afrikaanse afrigters, het Nederland die voortou in die reeks geneem.

Gareth Gilbert se Heren 15 het in Amsterdam met 27-10 teen Phil Pretorius se Tsjeggië gewen. Laasgenoemde word deur Hein Kriek, ʼn gewese voorspelerafrigter van die Pumas, bygestaan.

Die Nederlanders het ʼn wedstryd meer as die tweede geplaaste en tot dusver onoorwonne Portugal gespeel.

♦ In dieselfde reeks het Switserland magtig teruggeveg om Pole in Genève met 30-24 te klop nadat die besoekers rustyd met 24-12 voorgeloop het.

Die tuisspan kon eers in die 69ste minuut sy neus voor kry.

Die Poolse losskakel, Dawid Banaszek, het 14 van sy span se punte met ʼn drie twee doelskoppe en twee strafdoele op die telbord geplaas.

Albei lande het tot onlangs Suid-Afrikaners in hul afrigtingspanne gehad in die Pretorianer Blikkies Groenewald (hoofafrigter van Pole) en wyle Eric Melville, ʼn gewese Westelike Provinsie B- en Franse toetsagsteman (voorspelerafrigter van die Switsers).

Luidens ʼn berig op die webwerf T2Rugby.com is dit ʼn groot teleurstelling vir die Poolse rugbypubliek dat die Poolse Rugbyunie (PZR) nie ʼn verlenging van Groenewald se kontrak kon beding nie.

Die werf sê dit was duidelik dat Groenewald se kundigheid, ervaring en algehele ywer om die peil van rugby landwyd te verhoog besig was om vrug te dra.

♦ Ook Bosnië en Herzegovina moes sy litte roer om Andorra in Afdeling 1 Suid met 20-17 te klop nadat die besoekers rustyd in Zenica met 10-0 voor was.

Die wendrie is eers in die 80ste minuut gedruk.

♦ In die Victoriastadion op Gibraltar het die tuisspan die besoekende Finland in ʼn vriendskaplike wedstryd met 17-5 verslaan (rustyd 6-5).

Die losskakel Alexander Cruz het 12 van die wenspan se punte met vier strafdoele behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oom Piet ·

Kry hom vir die Springbokke , daar was lank laas ‘n Jood in die span wat vir ons geluk gebring het, dink maar aan Sid Nomis ,Wulf Rosenberg en andere.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.