Gewilde All Black hang tokse op

Dan Carter. Foto: Gabriel Bouys/AFP.

Die briljante Nieu-Seelandse losskakel Dan Carter het in die ouderdom van 38 jaar sy rugbystewels opgehang. Hy het sy uittrede Saterdag op sosiale media bevestig.

“Rugby was vir 32 jaar deel van my lewe en dit het gehelp om my die persoon te maak wat ek vandag is. Ek is egter opgewonde oor die nuwe hoofstuk van my lewe en wat dit mag inhou. Ek is natuurlik hartseer, maar die tydsberekening is perfek. Rugby sal altyd deel van my lewe wees,” het Carter geskryf.

Die All Blacks-skopsensasie het min of meer elke liewe losskakelrekord agter sy naam, maar is hy die beste no. 10 ooit?

Nou dít behoort ’n lekker gesprek om die braaivleisvuur te wees.

In Suid-Afrika sal iemand soos Naas Botha die meeste stemme kry, maar volgens Engeland se sir Clive Woodward is Jonny Wilkinson ongetwyfeld die amptelike opposisie-leier.

En die 65-jarige breier behoort te weet waarvan hy praat. Gedurende sy internasionale afrigtingsdae was hy aan die stuur van Wilkinson se Rose, terwyl hy ook swaarde met Carter en die All Blacks gekruis het.

Hy sonder veral Carter se puik vertoning in die Wellington-toets van die Britse en Ierse Leeus-toer na Nieu-Seeland in 2005 uit.

“Sy 33 punte in daardie wedstryd, wat twee briljante drieë ingesluit het, is seker die beste individuele vertoning wat ek nog gesien het. Die perfekte 10,” het Woodward gesê.

Maar wie is sy gunsteling: Carter of Wilkinson?

“Ek dink hul stelskopwerk is ewe goed. Dan is egter die beste aanvallende losskakel ooit en Jonny was die beste op verdediging. As jy my egter in ’n blik druk… dan sou ek vir Jonny kies. Maar ook net-net.

“Ek het die voorreg gehad om Jonny ses jaar lank af te rig en ek ken sy spel baie goed. Daarteenoor kon ek net Dan se briljantheid van ver bewonder.”

Uiteindelik hoef ’n mens nie altyd na kenners te luister om ’n rugbygeskil op te los nie. Skoonma’s van reg oor die wêreld sal waarskynlik met ’n unieke juweel van hul eie vorendag kom.

Vrouens wil Carter aan hul sy hê, terwyl mans soos Carter wil wees.

Die rugbywêreld sal hom as ’n briljante speler en ’n ewe goeie mens onthou.

’n Tikkie Carter-statistiek:

  • 1 708 punte vir die Crusaders in 141 wedstryde
  • 1 598 punte vir die All Blacks in 112 wedstryde
  • Hy het 19 wedstryde teen die Springbokke gespeel, waarvan die All Blacks 15 keer aan die wenkant was.
  • Hy het in 2011 en in 2015 die Webb Ellis-trofee saam met die All Blacks omhoog gehou.
  • Carter het ’n sleutelrol vertolk in die Nieu-Seelanders se nege Drienasies-/Rugbykampioenskap-seges in sy loopbaan.
  • Hy was drie keer (2005, 2012 en 2015) Wêreldrugby se speler van die jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

SWAREB1962 ·

Dis hartseer om hom te sien uittree maar n goeie loopbaan agter hom. Sterkte vorentoe.

Persheks Adri ·

Maroela, kyk net gou die sin asb ek dink daar kort ‘n woord soos opgehang na rugbystewels die sin is nie volledig nie. Menslike fout ons verstaan.

Die briljante Nieu-Seelandse losskakel Dan Carter het in die ouderdom van 38 jaar sy rugbystewels . Hy het sy uittrede Saterdag op sosiale media bevestig.

Persheks Adri ·

Inderdaad ‘n goeie speler gewees! Sterkte met jou toekoms en jy sal gemis word geen twyfel oor dit nie!

MakersMark ·

Een van die heel bestes. Dalk kop aan kop met Jonny Wilkinson.

Anti-Verkramp ·

Definitief een van die bestes in die moderne era. Phil Bennett was die beste aanvallende losskakel wat ek persoonlik gesien het (alhoewel dit seker baie te doen gehad het met sy skrumskakel, die beste ooit Gareth Edwards). Daai 1974 Leeus het ons Bokkies darem flou gehardloop. Wat ‘n span. Naas het potensiaal gehad om beter te doen op die aanval, hy was vinnig en kon ‘n gaping slaan maar ongelukkig was hy te lief vir skop. Kon egter nie tackle nie.

MakersMark ·

Toemaar dis een keer in 140 jr wat die Leeus die bokke geklop het, daarna het die bokke hulle genoeg pak gegee oor die afgelope 46 jaar. Naas hoef nie kon tackle nie. Naas was Baas verstaan ?

Anti-Verkramp ·

Bokkies het nog altyd die Leeus as ‘n moeilike teenstander gevind. 46 toetse gespeel, 23 gewen, 17 verloor en 6 gelykop. As jy in ag neem dat al die toetse in SA gespeel is, is dit glad nie so great nie.

MakersMark ·

Bokke het elke reeks teen die B&I Leeus gewen. Hulle toer net so dis logies al die toete sou in SA plaasvind. Met al daai reekse gewen, wat is die punt ?

Anti-Verkramp ·

As ons gevaarlike agterspelers soos De Allende en Kolbe darem net so ‘n losskakel gehad het…….

MakersMark ·

Nie in dieselfde klas as Naas, Pollard, Gerber, du Plessis Fourie ens. nie. Kolde nie eers in die t20 verdieners in Europa nie. Pollard kry meer as dubbel ek meen Faf is ok 500 k £. Waar is die makkers wat die bankrot WP gelos het ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.