Gewilde spanbestuurder se hart klop warm vir geliefde Pumas

Marius van Rensburg in aksie langs die veld. Foto: Hennie Homann.

Een van die vriendelikste en beste spanbestuurders in Suid-Afrikaanse rugby is sonder twyfel die Pumas se Marius van Rensburg.

Dié glimlaggende Kapenaar is al vir 11 jaar deel van die Pumas-opset en is nou al amper so ʼn deel van Mpumalanga as wat die Krugerwildtuin en die N4-tolhekke is.

Van Rensburg het saam met die Pumas se spelers, bestuurspan en afrigters (soos onder andere Jimmy Stonehouse en MJ Mentz) ’n gedugte kombinasie gevorm wat gesorg het dat die “klein” Mpumalanga-unie saam met die groot honde in Suid-Afrikaanse rugby kan blaf.

“Ek is baie bevoorreg om vir so lank by rugby betrokke te wees. Ek is besonder dankbaar jeens coach Jimmy wat vir my die geleentheid gegee het en vir Hein Mentz – ons twee kon lánk oor rugby gesels. Dan is Pieter Burger (uitvoerende hoofbeampte) ’n dinamiese persoon wat ’n baie professionele omgewing by die Pumas geskep het,” het Van Rensburg aan Maroela Media gesê.

Hy was voor sy betrokkenheid by die Pumas die SWD Arende se spanbestuurder. En hoewel hy die Kaap mis, beskou hy homself deesdae as ’n volbloed-Puma.

Faf de Klerk het in die Van Rensburg-era vir die Pumas gespeel. Foto: ANA.

“Ek dink die Pumas se sterk punt is dat ons amper soos een hegte familie is – mense gee hier vir mekaar om en ons staan bankvas agter mekaar. Ek dink buitestanders sal dit selfs by Mpumalanga se klubstrukture opmerk – ons sien na mekaar se belange om.”

As spanbestuurdeur is sy pligte onder meer om na die welstand van die spelers om te sien en die kommunikasie-kanale tussen die spelers, afrigters en bestuur oop te hou.

“Ek is op my gelukkigste wanneer ek sien dat ouens wat deur die Pumas se rugbystelsel gekom het, groter hoogtes bereik. Dit beteken dat die Pumas met iets besig is wat goed werk. Daar is al ’n hele paar van ons spelers wat óf Superrugby gespeel het óf vir die Springbokke uitgedraf het.”

Hoewel hy nie spelers wil uitsonder nie – “ek ken baie goeies” – het spelers soos Faf de Klerk, Duane Vermeulen, Rosko Specman en Tian Meyer almal een of ander tyd hul rugby in Mpumalanga gespeel.

In ’n ligte luim saam met die Pumas. Foto: Verskaf.

“Wat ek wel kan sê is dat die Puma-spanne van 2009 en 2013 fenomenale groepe was. My gunsteling-herinnering was egter in 2010 toe ons in ’n promosie/relegasie-wedstryd teen die Kings in Port Elizabeth gewikkel was. Daar was seker 50 000 toeskouers daardie dag by die wedstryd gewees en almal het gedink dat die Kings sou wen. Maar toe die eindfluitjie geblaas het, het die Pumas hul plek in die Curriebeker-reeks verseker.”

Gedurende sy tydperk by die Pumas het die unie se vertoonkas ook effens groter geword: Daar is ’n Curriebekertrofee (eerste liga), ’n Vodacombeker- én die SuperSport Uitdaagreeks-trofee in hul uitstalruimte.

Maar volgens Van Rensburg is die lekkerste deel van sy werk om net saam met span te toer en dit te geniet.

“Wanneer die ouens oor ’n naweek wen, dan voel dit asof ek deel van die sege gehad het. Terselfdertyd is ek ook maar ’n lekker swak verloorder; dit is vir my moeilik as die span verloor. Maar ʼn mens gaan weer aan met jou lewe en werk vir die volgende wen.”

Gewild en baie goed met wat hy doen: Marius  Van Rensburg is een van Suid-Afrika se rugbysuksesverhale.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.