Gimmies stof Boishaai in riller uit

Paarl Gimnasium en die Hoër Jongenskool Paarl, oftewel Boishaai, was gewikkel in ‘n rillerstryd tot in die laaste minuut. (Foto: Poppie Terblanche/Facebook)

Wat ʼn riller. Wat ʼn goeie getuigskrif vir rugby!

Kom ons wees eerlik, daar is baie min dinge wat kan kers vashou by die jaarlike interskolerugbywedstryd tussen Paarl Gimnasium en die Hoër Jongenskool Paarl, oftewel Boishaai.

Ja, die senuwees het aan die begin gelol, maar op die ou einde het Gimmies, wat vanjaar nog net een keer – teen Grey-kollege van Bloemfontein – verloor het, net-net genoeg gedoen om met 18 – 17 uit die stryd te tree nadat hulle rustyd met 8 – 5 voor was.

Hoe dan anders as ʼn rillerstryd, want die spanne het mekaar die eerste keer in 1915 gepak en afgesien van 1918, tydens die Eerste Wêreldoorlog, mekaar reeds 97 keer aangedurf.

Saterdagmiddag was dit weer so in die volgepakte Faurestraat-stadion in die Paarl toe meer as 25 000 jillende toeskouers die spanne aangespoor het.

Huidige leerlinge, oudleerlinge, oud-Bokke, oudprovinsiale spelers, pa’s en ma’s, ooms en tannies, bure.

Die winkels was vroeg toe, die Paarl het stilgestaan, regstreeks op televisie of te not.

Jy het óf die Galpille (Boishaai), óf die Bloedworse (Gimmies) ondersteun.

Dit was hard, genadeloos, taai… en propvol tradisie.

Gimmies het die hef in die hand gehad en was diep in die tweede helfte nog met 18 – 5 voor, voordat Boishaai teruggeveg het.

ʼn Drie deur Boishaai se vleuel Javier Farmer in die 75ste minuut, het die telling op 18 – 17 te staan gebring in Gimmies se guns. Speeltyd was verstreke en alles het van die doelskop van die heelagter, Jacques Rossouw, afgehang.

Was dit oor, was hy in die annale van Boishaai.

Skop hy mis… nou ja.

Hy het die bal goed getref, maar dit was te kort en toe kon Gimmies begin feesvier met duisende leerlinge en oudleerlinge wat op die veld gedraf het om hul helde skouerhoog af te dra.

Vir Boishaai was dit hartverskeurend, so naby en steeds te ver.

* Sommige lesers sal kla dat daar gans te veel klem op ʼn skolewedstryd gelê word, dat daar te veel ophef daarvan gemaak word, dat die kinders te vroeg in hul loopbane op verhoë geplaas word wat hulle nog nie verdien nie, dat hulle eerder op hul skoolwerk en studies moet konsentreer.

Ja, dis alles waar. Maar kom ons vergeet ʼn wyle daarvan en gun die skoolseuns wat dit moontlik gemaak het, hul oomblikke van glorie.

Vir baie van hulle gaan dit die grootste oomblikke van hul loopbane wees, baie van hulle gaan oor ʼn paar jaar terugkeer om weer deel daarvan te wees.

Skolerugby is die grondslag vir die toekoms van Springbokrugby.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Spike ·

Lyk my die skole afrigters en kapteins het meer verstand as die Cheetahs s’n na gisteraand, want wen eers die wedstryd dan kan jy tierlanteintjies uithaal.

Jakkie ·

Gimmies het ook amper voortydig op die veld begin beweeg in die doodsnikke. Toe tel boishaai spoed op wat eindig in die laaste drie. Met die spoedoptel het gimmies se skare begin terugtrek in fie naelbyt oomblikke en eers toe weer lewe gekry toe Rossouw se doel nie oor is nie. In daardie oomblik was die skare asemloos, dit was maak of breek.

Frans C ·

Dit is jammer dat die bywoning van Curiebeker wedstryde so swak is invergelyking met
skolewedstryde.’n Mens lees nêrens op Maroela oor die goeie vertonings van die Pumas
wat die Sharks geklop het en die Griekwas wat die Blou Bulle op Loftus in die stof laat byt het.Hoekom nie?

Our Boishaaier ·

Dit was n mooi, skoon maar harde wedstryd. Die seuns het hulle harte uitgespeel, beide kante. Jammer Boishaai kon nie hul vinnige aanslag deurvoer met nog punte voor halftyd nie, maar dis nou maar so. Nietemin Boys julle het hard gespeel geen wedstryd kan voorspel word nie, dis nie n drama opvoering nie.
En Jacques dis ok ons weet jy is n goeie speler jy het jouself bewys heel jaar en gedurende die wedstryd.
Volgende jaar is daar weer n kans!!!

kolla ·

Ek reken albei hierdie skole sal die nulle in ‘n wegwedstryd op Loftus klop.

CdV ·

Ek kan dit beaam.Die jaarlikse gees en atmosfeer van dié Interskole het nie sy gelyke in die wêreld nie. Ek het myself na skool as jongman van Johannesburg in 1980 my eerste Interskole in die Paarl beleef. Die hele opbou, die opmaak van die dorp, die old boys games, reunie’s, groot “brag”, die tradisies soos “capping” van spelers deur ouers is net ongelooflik. Met geen persoonlike verbintenis tot enige van die twee skole nie, is ek verslaaf aan Interskole en alhoewel ek al vir 20 jaar nie meer in die Paarl woonagtig is nie, word ek jaarliks meegevoer en het ek in 39 Jaar slegs 9 Interskole weens werksverpligtinge ( of is dit dalk swak beplanning) gemis. Jy het meer toeskouers by ‘n skool wedstryd as wat die Bulle op Loftus kan kry.

Spike ·

Frans C. Jammer ek haal dit weer op, maar na Vrydagaand se dom (arrogante) besluite van senior spanne soos die Cheetahs en Saterdag se Bulle om hoeveel punte vlak voor die pale nie te vat, kyk die mense nie meer na hulle nie. Ek kannie verstaan dat hulle nie kan besef om eers die wedstryd te probeer wen nie.

Cuda ·

Ag ou kolla. Mense wat net negatiewe komentaar lewer, mis so baie in die lewe. Ware sportmanne respekteer sy opponente. Ek kan jou net jammer kry….

Bossie ·

Albei uitstekende skole met welopgevoede leerders. Ek is ‘n Boishaai ondersteuner maar het die grootste respek vir albei skole. Soveel sportmanskap is amper nêrens meer te vinde. Wonderlike en feestelike week in die Paarl voor die groot dag. Wel gedaan Gimmies. Boishaaiers, dit is maar soos altyd hartseer maar daar moet wenners en verloorders wees en die geluk ry nog al die jare wipplank. Indien ons verloor is dit nou so. Weet net, wen of verloor, ons is baie trots op julle. Volgens my is elke speler op die veld ‘n “hero” want jul hart en siel word daardie dag uitgespeel. Sonder julle was Interskole nie moontlik nie. Dankie aan al die organiseerders, leerders, ouers en elkeen betrokke vir hierdie wonderlike en feestelike week te midde van al ons land se probleme. Iets om na uit te sien elke jaar. Gimmies, volgende jaar is ons terug!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.