Glips versuur skitterskopper se dag van glorie

ʼn Glips reg teen die einde was Saterdag die druppel gal in ʼn Suid-Afrikaner se soetste wyn in die Japanse Topliga.

Lionel Cronjé, wat vir verskeie spanne Superrugby gespeel het, se skitterende skopwerk het Toyota Verblitz deurentyd in die prentjie gehou in sy gelykop spel van 26-26 teen Kobelco Steelers.

Hy het 21 punte met sewe strafdoele behaal, sewe punte meer as wat die legendariese All Black Dan Carter, met twee doelskoppe en vier strafdoele vir die Steelers op die telbord geplaas het.

Cronjé, wat verlede jaar die reeks se voorste puntemaker was, kon egter nie Jake White se span se gelykmakende drie in die 80ste minuut vir die wenpunte verdoel nie.

♦ Wat hy (Cronjé) nie kon regkry nie, het Gerhard van den Heever, Kubota Spears se held in sy sege van 31-29 oor Honda Heat, wel vermag.

Dié gewese Bulls- en Stormers-spleler het self die gelykmakende drie in die 80ste minuut gedruk, en komkommerkoel die wenpunte met die doelskop bygevoeg.

Hy het ook ál drie die Spears, wat deur Frans Ludeke afgerig word, se ander drieë verdoel en ʼn strafdoel behaal om sy bydrae op 16 te staan te bring.

♦ Kotaro Matsoesjima (heelagter), die Japanse toetsspeler wat in Pretoria gebore is, het ʼn driekuns vir Suntory Sungoliath teen NEC Green Rockets behaal.

Sy span het die kragmeting met 47-31 gewen.

♦ Twee drieë en ʼn rooi kaart was ʼn gewese Superrugby-speler van die Kings se deel in die Japanse reeks.

Shane Gates (senter) het binne die bestek van 11 minute twee keer vir die NTT Shining Arcs agter die doellyn gaan kuier, maar is later van die veld gestuur.

Hy het verlede jaar sewe drieë (die vyfde meeste in die liga) gedruk.

Die Arcs, met die Springbok Hugh Reece-Edwards as hulpafrigter, het die Hino Red Dolphins met 45-28 verslaan.

♦ Fred Zeilinga (losskakel), ʼn gewese Sharks- en Cheetahs-speler, het Vrydag ʼn drie vir Allister Coetzee se Canon Eagles teen Ricoh Black Rams gedruk, en ook met ʼn strafdoel geslaag.

Die Rams het met 21-17 gewen.

♦ Coenie van Wyk (heelagter), wat die SA Presidentspan in 2013 die Tbilisi-beker help wen het, het een van Toshiba Brave Lupus se vyf drieë in sy sege van 29-14 oor Coca-Cola Red Sparks gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Daai Lionel Cronje was nog altyd n ster , al het hy vir die sukkel Kings gespeel. Stel jou voor wat hy vir die Bokke as heelagter of losskakel sou kon beteken. Strate beter as n ander losskakel wat ek nie hier wil noem nie. Hy sou vir die bokke n groot aanwins kon wees !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.