GLOL: Oudskoliere aan diep kant ingegooi

Die nuweling in die Griffons-Luiperdsoorgrensliga (GLOL), Bethlehem-oudskoliere, word Saterdag met die afskop van die liga aan die diep kant ingegooi.

Hy speel weg van die huis teen verlede jaar se naaswenner, Welkom. Oudskoliere is tot die liga bevorder nadat hy verlede jaar die Oos-Vrystaatse Willie Crowtherbeker gewen het.

Lichtenburg, die Luiperds se Neserbeker-A-kampioen, het op sy beurt bevordering na die GLOL grootliks om geldelike redes van die hand gewys.

Darius Venter, Lichtenburg se hoofafrigter, het aan Pale Toe! gesê hy is ná ʼn baie suksesvolle Presidentsliga hoogs tevrede met die span se vertoning teen die superligaspanne Vaal Reefs en Klerksdorp Barbarians.

“Ek glo met genoeg diepte en finansiele ondersteuning sal die klub die hoër trappie kan klim, maar die oorskuiwing sal ʼn groot finansiele implikasie hê, en die klub is nie tans in die posisie om sodanige verpligtinge na te kom nie.”

Die Presidentsliga moes help bepaal of Lichtenburg en Potchefstroom-Dorp vir die oorgrensliga ryp, is en hulle is gemeet teen Vaal Reefs en Klerksdorp, wat reeds in dié liga speel.

Eugene Fourie, die Luiperds se bestuurder van amateurrugby, het bevestig dat slegs laasgenoemde twee vanjaar in saam met die Griffons se topspanne sal speel.

In Saterdag se ander GLOL-wedstryde reis die Noord-Vrystaatse spanne Kroonstad en Odendaalsrus onderskeidelik na Vaal Reefs (Orkney) en Klerksdorp.

Die tuisspanne is in albei gevalle die gunsteling, en hul drie wedstryde in die Presidentsliga sal hulle waarskynlik ʼn groter voorsprong verskaf as waarop die spanne se vertonings verlede jaar kan dui.

Arthur Breakfast-liga

Intussen is die eerste wedstryde in die Luiperds se ontwikkelingsliga, die Arthur Breakfast-liga, die afgelope Saterdag beslis.

Kloof en Harmony het met 10-10 gelykop gespeel; Orbit College het Driefontein met 10-0 geklop; en Wes-Wits Cheetahs het Khuma met 43-7 oorrompel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.