GLOL: Welkom-speler teken 21 punte aan

ʼn Speler van Welkom het Saterdag op Klerksdorp 21 punte aangeteken in sy span se groot sege in die eerste ronde van die Griffons-Luiperdsoorgrensliga (GLOL).

Welkom het met 58-31 oor Vaal Reefs van Orkney geseëvier.

Sy losskakel, Ryno Venter, het al sewe die wenspan se drieë verdoel en met drie strafdoele geslaag.

Swannie Swanepoel, Welkom se afrigter, sê Venter en die skrumskakel Kelvano King (skrumskakel), wat drie drieë gedruk het, kan uitgesonder word in ʼn span vol uitblinkers.

Venter is as die agterspeler van die wedstryd aangewys, en die slot Ernie Halberg as die beste voorspeler.

Swanepoel sê hulle het ʼn taai kragmeting verwag en Welkom moes uit die staanspoor die druk van Vaal Reefs verwerk, maar toe hy die oorhand kry, was daar nie keer aan die Noord-Vrystaatse klub nie.

“Ná 11 minute het Welkom die eerste punte aangeteken deur ʼn strafskop deur die pale te jaag. Daarvandaan wat dit Welkom wat deurgaans die druk toegepas en die punte opgestapel het.

“Vaal Reefs het vier drieë gedruk deur ongedwonge foute uit te buit.”

Swanepoel sê die dissipline en deursettingsvermoë van elke Welkom-speler het die grondslag vir die uitstekende oorwinning gelê.

Sabata Mockachane (flank), Vuyo Mboto (regtervleuel, twee) en Mackie Pelser (plaasvervanger-voorspeler) het Welkom se ander vier driee gedruk.

Welkom se tweede span het eweneens oortuigend met 48-10 gewen, nadat die derde span Donderdag ʼn goeie oorwinning van 22-10 oor Tikwe (Virginia) in die Sandveldliga behaal het.

Welkom III speel eerskomende Donderdag ʼn wegwedstryd teen die verdedigende Sandveldkampioen, Bothaville; en Saterdag speel Welkom I en II tuis op die Griffons-B-veld teen Odendaalsrus (15:00 en 16:30).

♦ In die afgelope Saterdag se ander GLOL-wedstryde het die verdedigende kampioen, Rovers van Welkom, se eerste span met 41-20 teen Klerksdorp Barbarians gewen; en Klerksdorp se tweede span het 34-25 gewen.

Opgesomde punteleer –

Griffons-Luiperds-oorgrensliga

Eerste spanne

Odendaalsrus 5, Welkom 5, Rovers 5, Vaal Reefs 1, Klerksdorp Barbarians 0, Kroonstad 0.

Tweede spanne

Welkom 5, Klerksdorp Barbarians 5, Odendaalsrus 0, Rovers 0, Vaal Reefs 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.