Glorie-tot-skande-All Black op 74 oorlede

Keith Murdoch (Foto: Twitter)

ʼn All Black wat in 1970 in Suid-Afrika getoer het, en wie se dag van glorie hom eweneens in ʼn skande gedompel het wat hy nie kon verwerk nie, is in die ouderdom van 74 jaar oorlede.

Keith Murdoch se afsterwe is deur die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NZRU) bevestig, maar geen verdere inligting is bekend nie oor die dood van die man wat in die vroeë jare sewentig na die Australiese agterveld gevlug het, en sedertdien slegs enkele kere in die openbaar gesien is.

Murdoch het sy toetsbuiging in 1970 in die vierde toets teen Suid-Afrika gemaak, maar word op daardie toer veral onthou vir die verbete stryd wat hy en die Springbok Ronnie Potgieter in die All Blacks se kragmeting teen Noord-Transvaal gevoer het.

Die Kiwi-koerantman Gabriel David het ná die toer in sy boek Rugby and be Damned geskryf dié botsing het geen twyfel gelaat nie dat Murdoch die sterkste stut ter wêreld is.

Murdoch se oomblik van glorie het egter twee jaar later op Cardiff Arms Park aangebreek toe hy die All Blacks se enigste drie in hul sege van 19-16 oor Wallis in die eerste toets van hul toer na Brittanje en Frankryk gedruk het.

Die oorwinningsfees het egter handuit geruk en Murdoch het ʼn veiligheidswag in ʼn onderonsie by die spanhotel plat geslaan.

Hy is deur die toerbestuur huis toe gestuur, maar het blykbaar nie kans gesien om die Nieu-Seelandse rugbypubliek in die oë te kyk nie, en het die vliegtuig in Singapoer verlaat, en daarvandaan na die onherbergsame dele van Australië gevlug.

Sover vasgestel kan word, was hy slegs een keer weer in Nieu-Seeland. Toe hy in 1980 ʼn vriend daar besoek het, het hy dié se kind se oënskynlik lewelose liggaam uit die swembad gehaal en met mond-tot-mond-asemhaling sy lewe gered.

Toe die media gevolglik op sy spoor kom, het hy onverwyld weer die wyk Australië toe geneem.

Die NZRU bestempel Murdoch op sy webwerf as “die mees omstrede, geheimsinnigste en mees tragiese van alle All Blacks”.

Hy het behalwe bogenoemde twee toetse slegs in die derde toets van 1972 teen Australië gespeel.

Benewens die vierde toets teen die Bokke (Suid-Afrika het met 20-17 gewen) het hy in 1970 in agt gewone toerwedstryde gespeel.

Eers ʼn ligamentbesering en toe blindedermontsteking het gekeer dat hy waarskynlik in meer toetse hier te lande gespeel het.

Murdoch se krag was legendaries.

Neil Steyn vertel in sy boek Weer Wêreldkampioene hoe hy by geleentheid in Dunedin, Nieu-Seeland, ʼn tou aan ʼn onklaar motor gebind het, die ander punt om sy regterarm gedraai het, in sy eie motor geklim het, en die stukkende voertuig met gemak bult op en bult af tot by sy bestemming gesleep het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.