Glorie wink vir Blitsbokke in Parys

Manna uit die hemel, met kondensmelk daarop.

Dít is wat die Blitsbokke vir hul ondersteuners vanjaar in die Sewes-wêreldtoernooi opdis, en ná die brousel wat hul 15-man-eweknieë verlede jaar op die tafel gesit het asook verskeie van ons Superrugbyspanne se vermoë om die pap op die grond te laat val, is dit smullekker.

Die Blitsbokke kan reeds hierdie naweek in Parys, Frankryk as die wêreldkampioene gekroon word, hoewel hulle slegs hierdie naweek asook tydens die volgende toernooi in Londen die kwarteindronde hoef te haal.

Die Blitsbokke is tans met 25 punte voor die naasbeste Fidji en indien hulle, soos meer male as minder hierdie seisoen, Sondag vir die eindstryd opdraf, rus sewesrugby se gesogste kroon vir die eerste keer sedert 2008/2009 op hul hoofde.

Neill Powell se troepe skop hul toernooi teen die altyd gevaarlike Skotland af, voor Japan en Kanada aangedurf word. Op die oog af is dit dalk nie die moeilikste van teenstanders nie, maar onthou dat Kanada die Singapoer-ronde van die wêreldtoernooi gewen het en dat Skotland in 2016 met die Blitse afgereken het. Nee, dis geensins so eenvoudig nie.

Die vlugvoetige Rosco Speckman se terugkeer beteken dat die Blitsbokke weer op een van die skerpste pyle in hul koker kan staatmaak, en diegene wat ‘nee’ sal sê om dié 28-jarige boorling van Grahamstad in hul geledere te hê is yl gesaai, yler as eerlike politici, yler as die mense wat ‘Nunathloogagamiutbingoi’ die eerste keer reg kan spel, en dit sluit die sowat 200 mense in wat in hierdie stukkie van die Alaska-wildernis woon.

Die bepalings –

Saterdag 13 Mei
11:28 Suid-Afrika teen Skotland
14:54 Suid-Afrika teen Japan
18:42 Suid-Afrika teen Kanada

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

David ·

Skitterend Blitsbokke. Ek staan al die pad agter julle en kyk na elke wedstryd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.