GLRU-liga: 3 stryde ten bloede in Piratesliga

wits sportDrie stryde ten bloede toe het Saterdag se rugby in die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se reeks om die Pirates-grootuitdaagbeker gekenmerk.

Die Universiteit van die Witwatersrand het vir `n groot verrassing gesorg deur slegs 17-19 teen die hoogaangeskrewe NWU Pukke te verloor; Raiders het die Pirates-kampioen, die Universiteit van Johannesburg (UJ), tot `n naelskraapse sege van 35-34 beperk; en Roodepoort het gewaarsku dat sy sake begin regkom toe Wanderers hom net-net 13-12 kon onderkry.

In die ander twee wedstryde het die Goue Bekerspan Pirates `n ruim oorwinning van 43-10 oor die nuweling in die liga, Johannesburg Polisie, behaal; en Alberton het Unie maklik 32-5 geklop.

♦ Gerhard Swart, die hoofafrigter van Johannesburg Polisie, sê die kragmeting teen Pirates was kwaai, maar die Bobbies het ware durf getoon toe elk van die spanne in die tweede helfte net sewe punte kon aanteken.

JHB-Bobbies-logo“Die Bobbies kon geen slegter nuus kry as die onttrekking Vrydag van die losskakel, Louis Snyman, nie. Die agterlyn moes gekommel word en die heelagter, Ralph Barnard, moes die belangrike losskakelrol oorneem.

“Polisie se buitesenter, Nico Johst, het indrukwekkend vertoon en is as die speler van die wedstryd aangewys.”

Martin da Sousa, die kaptein van die Bobbies, het al sy span se punte met `n drie, `n doelskop en `n strafdoel behaal.

Die Bobbies het nóg `n taai kragmeting teen Raiders ophande voor hulle Unie die stryd aansê.

Hulle berei ook hard voor vir die aanbieding van die wedstryd tussen die Goue Leeus en die Griekwas 11 Junie op Markspark. Polisie speel dieselfde dag teen Randfontein.

Ander uitslae –

Pirates-grootuitdaagbeker

Tweede spanne: Wanderers 21, Roodepoort 10; Alberton 24, Unie 12; UJ 61, Raiders 17; Pirates 87, Polisie 0; Wits 31, Pukke 14.

Derde spanne: Roodepoort 13, Wanderers 13; Alberton 20, Unie 19; Pirates 74, Polisie 7; Wits 82, Pukke 3.

Onder 21-spanne: Wanderers 44, Roodepoort 24; Alberton 48, Unie 0; UJ 52, Raiders 0; Pirates 66, Polisie 3; Pukke 43, Wits 0.

Onder 20-spanne: Roodepoort 68, Wanderers 44; Alberton 22, Unie 0; UJ 47, Raiders 0; Pirates 34, Polisie 12; Pukke 39, Wits 14.

Senior Grootuitdaagbeker

Eerste spanne: UJ Soweto 43, Germiston Simmer 3; Midrand Stingers 10, Khosa 10.

Tweede spanne: UJ Soweto 0, Germiston Simmer 5; Midrand Stingers 5, Khosa 5.

Onder 20-spanne: Germiston Simmer 28, UJ Soweto 0; Khosa 25, Midrand Stingers 5.

Presidentsliga

Eerste spanne: Southern Knights 15, Alexandra Wolves 12; Jabulani 47, Soweto 5; Eldoronians 22, Kagiso Sting 10.

Onder 20-spanne: Southern Knights 22, Alexandra Wolves 19; Jabulani 101, Soweto 5; Kagiso Sting 22, Eldoronians 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris van Niekerk ·

Ai waar is die dae dat Bobbies in Jhb gereeld met groot spanne soos UJ, Goudstad, Roodepoort afgereken het. Geluk en sterkte met die manne wat die klub weer van voor af opgebou het tot waar hulle vandag is. Saluut.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.