GLRU-liga: Polisie sorg vir grootste verrassing

Johannesburg Polisie het vir die grootste verrassing in die afgelope naweekronde van die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se Pirates-grootuitdaagreeks (PGU) gesorg.

Die Bobbies het verlede jaar se wenner van die bond se Senior Grootuitdaagreeks, Germiston Simmer, met 31-0 gelooi.

Die reekse is vanjaar herskik sodat die deelnemers aan verlede jaar se SGU vanjaar Groep 2 van die PGU vorm.

♦ Dana van Vuuren, die voorsitter van Randfontein, laat weet dit het maar moeilik gegaan teen Pirates, wat die bond verlede jaar in die reeks om die Goue Beker verteenwoordig het.

Pirates het al vyf kragmetings op Randfontein gewen.

Die eerste span het met 47-22 gewen, die tweede met 54-12, die derde met 66-0, die o.21-span met 27-12 en die o.19-span met 52-7.

♦ Alberton het op sy beurt al sy wedstryde teen die Soweto Eagles gewen: die eerste span met 57-5, die tweede met 70-0, die derde met 28-0, die o.21-span met 38-5 en die o.19-span met 69-0.

Rory Lategan, A Square Forklift Alberton se klubbestuurder, sê die eerste span het aanvanklik gesukkel om aan die gang te kom teen ʼn aangevuurde Eagles-span.

Tien minute voor rustyd was die telling 7-0 in Alberton se guns, en is die span van die kantlyn af laat weet om sy speelstyl te verander.

“Dit was tot sy voordeel en die span het sy lemoene met ʼn voorsprong van 21-0 geniet.

“Gepaardgaande met die rustydpraatjie het dit na ʼn heel ander span gelyk wat die spel hervat het.

“Alberton het sjampanjerugby gespeel en die buite-agterspelers toegelaat om die voorosse se harde werk af te rond.”

Lategan sê Arno Smit het geen voet verkeerd gesit nie, selfs nie toe hy na die ongewone posisie van linkervleuel verskuif is nie, en die skitterende skrumskakel is as die speler van die wedstryd aangewys.

Hy het nes Jonathan Reed en Jacques van Wyk elk twee drieë gedruk.

Sy skakelmaat, Bennie Botes, het ses van die nege drieë verdoel, ʼn aspek waarmee Alberton tot dusver vanjaar gesukkel het.

Benna Lotter, André Lombaard en Quinten du Plessis het die res van die drieë gedruk.

Ander uitslae –

Pirates-grootuitdaagbeker

Eerste spanne

UJ 44, Wanderers 21; NWU Pukke 78, Roodepoort 5; Raiders 41, Wits 35; Harlequins 20, Diggers 19.

Tweede spanne

UJ 48, Wanderers 17; Pirates 54, Randfontein 12; Pukke 56, 5; Raiders 20, Wits 12; Polisie 43, Simmer 17; Diggers 17, Quins 0.

Derde spanne

Wanderers 31, UJ 19; Pukke 56, Roodepoort 7; Raiders 40, Wits 17; Polisie 66, Simmer 7; Quins 54, Diggers 15.

Onder 21-spanne

UJ 104, Wanderers 31; Pukke 112, Roodepoort 0; Simmer 15, Polisie 7; Diggers 69, Quins 5.

Onder 19-spanne

UJ 68, Wanderers 3; Wits 18, Raiders 0; Simmer 15, Polisie 0; Quins 47, Diggers 5.

Senior Grootuitdaagbeker

Eerste spanne

Alexandra 17, Kagiso 12.

Tweede spanne

Kagiso 28, Alexandra 0.

Onder 20-spanne

Alexandra 24, Kagiso 10.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.