GLRU-liga: Raiders verdelg eertydse SA kampioen

Nog een van die hartseerverhale van superklubs uit die amateurera wat in die beroepsbedeling sukkel, het Saterdag in Johannesburg afgespeel toe Raiders eenvoudig ʼn eertydse SA klubkampioen en meermalige wenner van die Pirates-grootuitdaagreeks verdelg het.

Die span van Industria het die eens trotse Roodepoort in Groep 1 van die PGB-reeks met ʼn amper ongehoorde 127-7 verniel.

In die ander wedstryde in dié groep het die Universiteit van Johannesburg (UJ) met 62-7 teen Randfontein gewen; die NWU Pukke het die Wits met 35-14 afgestof; en Pirates het Wanderers met 33-23 geklop.

In Groep 2 het Unie sy eerste sege vanjaar aangeteken deur Soweto Eagles met 70-6 te oorrompel; Johannesburg Polisie het oortuigend met 24-0 teen Diggers gewen; en Alberton het Harlequins van die Wes-Rand met 23-15 getroef.

♦ Rory Lategan, die klubbestuurder van A Square Forklift Alberton, sê die klub het regte ouwêreldse durf in sy sege aan die dag gelê.

“Alberton het in sy swakste vertoning van die seisoen gesukkel om aan die gang te kom, en om sout in die wonde te vryf, is Jacques van Wyk en Faf Beukes binne die eerste tien minute met beserings van die veld af.

“Naas die vroeë ontwrigting in die opdrafspan, het dit ʼn sielkundige uitdaging geraak toe twee moontlike drieë vroeg-vroeg op die doellyn gesmoor is.”

Lategan sê Quins het regdeur die eerste helfte voorgeloop (rustyd 8-3).

“Die besoekers het die skoen ingelê om Alberton se voorspelers te laat omdraai, en het die spel by die afbreekpunte oorheers.
“Alberton het in die kleedkamer heelwat stof tot nadenke gehad.

“Die bal wou eenvoudig nie vir die tuisspan reg spring nie, en die tweede helfte se terugvegpoging is deur loutere durf en vasbeslotenheid ten grondslag gelê.”

Lategan sê die wenspan se agterste driehoek het ná rustyd ʼn mate van sinergie gevind, en munt begin slaan uit die balle wat die teenstanders teruggeskop het.

Albei vleuels, Shane Riley en Thorn “Doring” Khumalo, is met drieë vir hul onvermoeide ywer beloon, en Arno Smit het sý drie (Alberton se eerste) op ʼn deurslaggewende tydstip gaan druk.

Bennie Botes het ʼn doelskop en twee strafdoele bygedra.

Alberton speel Saterdag in die Germistonstadion teen Germiston Simmer, verlede jaar se wenner van die Senior Grootuitdaagbeker.

Die program is –

A-veld: 13:15 Derde spanne; 14:40 Tweede spanne; 16:00 Eerste spanne.

B-veld: 14:40 Onder 21-spanne; 16:00 Onder 19-spanne.

♦ Ryan Dennis, die voorsitter van Germiston Simmer, sê die bevordering tot die reeks om die Pirates-grootuitdaagbeker en die omwenteling om skielik vyf pleks van drie spanne in die veld te moet stoot, het die klub onverhoeds betrap, maar hy is besig om dit te verwerk, al het hy groot slae in sy vorige wedstryd teen Johannesburg Polisie gekry.

“Die nederlaag van 0-31 halfpad deur die eerste ronde het Simmer wreed tot die werklikheid laat terugkeer, dit nadat die Simmer-verdediging in sy vorige twee wedstryde slegs twee drieë laat deurglip het.

“Sonder vier van sy topspelers, wat om verskeie redes nie beskikbaar was nie, sou dit vanselfsprekend moeilik gaan, en Simmer se skrums, lynstane en agterlynbewegings kon eenvoudig nie by die Bobbies kers vashou nie.”

Dennis sê dit dui op die gebrek aan diepte in die klub, en daar wag reusewerk voor die groot uitdaging teen Alberton.

Polisie se tweede span het met 43-17 en die derde met 66-7 gewen, om Simmer wreed daaraan te herinner waarom hy (Polisie) reeds in 2016 tot die hoër liga bevorder is.

Simmer het darem die een onderouderdomwedstyd gewen. Die o.21-span het selfbeheersing aan die dag gelê en ʼn strawwe kragmeting met 15-7 gewen.

Die o.19-span het ʼn verkorte wedstryd met 5-0 gewen, maar omdat hy laat opgedaag het, word dit geag dat hy punte gegee het.

Die telling is kragtens die reeksreëls as 28-0 in die Bobbies se guns aangeteken.

Ander uitslae –

Pirates-grootuitdaagbeker

Tweede spanne

Pirates 27, Wanderers 3; UJ 71, Randfontein 12; Pukke 53, Wits 17; Raiders 101, Roodepoort 0; Alberton 52, Quins 8; Union 112, Eagles 0; Johannesburg Polisie 20, Diggers 7.

Derde spanne

Wanderers 24, Pirates 19; Randfontein 12, UJ 7; Pukke 78, Wits 14; Raiders 38, Roodepoort 5; Quins 35, Alberton 19; Unie 28, Eagles 0; Polisie 32, Diggers 5.

Onder 21-spanne

Pirates 27, Wanderers 23; UJ 66, Randfontein 10; Pukke 47, Wits 19; Raiders 82, Roodepoort 0; Alberton 43, Quins 7; Unie 27, Eagles 10.

Onder 19-spanne

Wanderers 27, Pirates 27; UJ 56, Randfontein 0; Pukke 40, Wits 26, Roodepoort 36, Raiders 13; Alberton 36, Quins 19; Unie 15, Eagles 5.

(Die o.21- en o.19-wedstryde tussen Diggers en Polisie is deur die skeidsregters uitgestel omrede swak sig op die Diggers-B-veld waar dit moes plaasvind. Die kwessie is na die reekskomitee vir ’n beslissing verwys.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.