GLRU-liga: reuse-tellings weer aan die orde

Diggers Rugby Club LogoDie mededingende tellings wat die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se Pirates-grootuitdaagreeks die afgelope paar weke gekenmerk het, moes Saterdag weer vir `n paar wegholseges plek maak.

Daar was darem nog vonk in die wedstryd tussen Randfontein en die Universiteit van die Witwatersrand wat eersgenoemde 22-21 gewen het.

Raiders het egter Johannesburg Polisie 101-26 oorskadu; die Universiteit van Johannesburg (UJ) het Unie 95-7 verniel; die NWU Pukke het Alberton 72-0 gestoomroller; en Pirates het Wanderers 55-15 afgeransel.

In die Senior Grootuitdaagliga het Harlequins van Krugersdorp 51-0 teen UJ Soweto gewen; die kampioen, Diggers, het Khosa (ook van Krugersdorp) 48-3 oorheers; en Germiston Simmer het 31-20 met Midrand se Tshuma Stingers afgereken.

♦ Christa Swanevelder, die sekretaresse van Diggers, sê die span het agt drieë in sy spogoorwinning oor Khosa (terloops, dit staan vir Krugersdorp High Old Students Association) gedruk.

“Die briljante Sesona Macala het die eerste drie drieë opeenvolgens vir Diggers ingeryg. Gerret (Kiwi) Atkin het twee gedruk en Jean Swanepoel, Jurgen Klose en Lucian Jansen elk een. Justin Smallman was vir die vier suksesvolle doelskoppe verantwoordelik.”

Diggers se tweede span het Khosa Vrydagaand 26-5 geklop, en die o.20s het `n wegholsege van 50-0 aangeteken.

Swanevelder sê Danny Dlamini is vir twee pragdrieë vir die tweede span oor die doellyn. Dean Buys en Fabrice Kalele het elk ook eenkeer agter die doellyn gaan kuier. Dlamini se skopskoen het drie van die doelskoppe suiwer deur die pale gestuur om op sy eentjie vir 16 punte te sorg en `n oortuigende oorwinning vir Diggers te beklink.

In die o.20-wedstryd het die belowende jong Yanga Lokwe binne die eerste minute van die wedstryd die eerste drie vir Diggers gedruk en voor die einde van die eerste helfte sy tweede. Slade Danielz (twee), Josh Williams, Jordan Hildebrand en Liam Oberem tel onder die driedrukkers. Vyf van die agt drieë is verdoel.

Wentzel Niemand van Germiston Simmer val teen Midrand Stingers aan, met Johan Roodt wat ondersteun.

Wentzel Niemand van Germiston Simmer val teen Midrand Stingers aan, met Johan Roodt wat ondersteun.

♦ Ryan Dennis, die voorsitter van Germiston Simmer, sê die span se voorspelers het spel in die eerste helfte teen Stingers beheer en volop geleenthede vir die agterlyn geskep. Die Midrandse span se goeie verdediging het egter Simmer se rustydvoorsprong tot 12-0 beperk.

“Tallose hanteerfoute deur Simmer in die tweede helfte het genoeg omkeerbesit aan Stingers besorg dat die besoekers twee strafdoele en twee verdoelde drieë kon aanteken.

“Desondanks het Simmer voor gebly op die telbord deur drie drieë te druk en twee daarvan te verdoel.”

Dennis sê individualistiese spel deur Simmer-spelers het spel in die tweede helfte laat uitrafel, tot noodverdediging gelei en die wedstrydplan in die wind geslaan.

Die speler van die wedstryd, Barry Niemand, het drie drieë gedruk en Anton Coetzee en Pieter Mocke een elk. Mocke het drie doelskoppe bygevoeg om self 11 punte aan te teken.

“Die komende twee weke sal deurslaggewend wees om ons dissipline op te skerp betreffende verdediging, die toepassing van ons wedstrydplan, en `n veerkragtige benadering om 80 minute en langer ons strukture te handhaaf teen Diggers, die spoggerige Senior Grootuitdaagkampioen.

“G’n plan om hom te onttroon sal maklik wees nie, en dit sal dié week op die oefenveld moet begin,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Dennis sê wat die tweede spanne betref, het Stingers net 12 spelers gehad en omdat Simmer die wedstrydoefening nodig gehad het, het hy drie spelers aan die besoekers geleen sodat die wedstryd kon voortgaan.

Simmer het 26-10 gewen, maar kragtens die reeksreëls word `n telling van 28-0 aangeteken omdat Stingers in werklikheid punte gegee het en dit bloot `n littelosmaker was.

Christo van Zyl, Hein Swart, JP Loots (speler van die wedstryd) en Ferdi Coetzer het Simmer se drieë gedruk. Christo Janse van Rensburg het twee en Dirk Koegelenberg een verdoel.

Stingers se o.20-span het punte gegee.

Ander uitslae –

Pirates-grootuitdaagbeker

Tweede spanne

Pirates 20, Wanderers 17; UJ 79, Unie 7; Wits 26, Randfontein 20; Raiders 71, Polisie 5; Pukke 95, Alberton 0.

Derde spanne

Wanderers 25, Pirates 22; UJ 60, Unie 7; Wits 43, Randfontein 28; Polisie 22, Raiders 21; Pukke 28, Alberton 0.

O.21-spanne

Pirates 26, Wanderers 24; UJ 59, Unie 0; Randfontein 33, Wits 31; Raiders 59, Polisie 0; Pukke 40, Alberton 7.

O.20-spanne

Pirates 22, Wanderers 5; UJ 28, Unie 0; Wits 52, Randfontein 7; Raiders 24, Polisie 0; Pukke 28, Alberton 0.

Senior Grootuitdaagbeker

Tweede spanne

Harlequins 64, UJ Soweto 0.

O.20-spanne

UJ Soweto 48, Harlequins 17.

Opgesomde puntelere –

Pirates-grootuitdaagbeker

Eerste spanne

UJ 20, Pirates 20, NWU Pukke 19, Raiders 18, Wanderers 15, Randfontein 10, Wits 7, Polisie 6, Alberton 6, Roodepoort 1, Unie -2.

Tweede spanne

UJ 21, Wits 20, Pirates 19, Raiders 15, Wanderers 15, NWU Pukke 14, Alberton 10, Roodepoort 4, Polisie 4, Randfontein 1, Unie 0.

Derde spanne

UJ 21, Wanderers 20, Pirates 16, NWU Pukke 15, Polisie 14, Roodepoort 12, Wits 12, Raiders 8, Alberton 6, Unie 2, Randfontein 1.

O.21-spanne

UJ 24, NWU Pukke 20, Wanderers 17, Alberton 15, Raiders 13, Wits 12, Pirates 10, Randfontein 10, Roodepoort 6, Polisie 0, Unie -1.

O.20-spanne

UJ 25, NWU Pukke 20, Pirates 20, Wits 15, Randfontein 11, Raiders 9, Roodepoort 8, Alberton 6, Wanderers 6, Polisie 4, Unie -1.

Senior Grootuitdaagbeker

Eerste spanne

Germiston Simmer 15, Diggers 9, Harlequins 6, Tshuma Stingers (Midrand) 6, Khosa 6, UJ Soweto 1.

Tweede spanne

Harlequins 13, Germiston Simmer 10, Tshuma Stingers 7, Khosa 5, Diggers 1, UJ Soweto 0.

Derde spanne

Harlequins 5, Germiston Simmer 1.

O.20-spanne

UJ Soweto 15, Germiston Simmer 13, Harlequins 7, Khosa 4, Diggers 0, Tshuma Stingers 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.