GLRU-liga: Simmer spring met taai toffie weg

germiston simmerGermiston Simmer (GS) spring vanjaar sommer uit die staanspoor met `n taai toffie in die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se Senior Uitdaagreeks weg.

Hy pak die naaswenner van verlede jaar, Harlequins van die Wes-Rand, in die eerste ligawedstryd op 2 April en moet boonop Krugersdorp toe reis omdat sy tuisveld dié dag vir `n atletiekbyeenkoms bespreek is.

Rene Audier, die klub se voorsitter, sê Simmer bou voort op sy strategiese plan vir 2015-2017. Vanjaar se doelwit is om in die toptwee te eindig.

“Die o.20s het verlede jaar reeds op hul doelwit verbeter en met die aantal spelers wat steeds vanjaar beskikbaar is, hoop ons dat die jongklomp ook vanjaar in die eindstryd sal speel.”

Audier sê dit lyk of uittredes GS `n paar van sy oud-spelers sal kos. In hierdie opsig is `n groot verlies die uittrede van die “klubinstelling” Ferdi Coetzer, wat sedert sy tjokkerdae vir geen ander klub nie as Simmer gespeel het, en behalwe die swart trui net dié van die Goue Leeus-subunie oor sy kop getrek het.

Audier sê dis gelukkig goed om te sien dat Hersie Herselman en Hein Swart, wat saam al 25 jaar vir die Swart Gevaar speel, terug op die oefenveld is en dat die twee “ou manne” nog ’n jaar of twee se goeie rugby in hulle het.

“Dit lyk of die agterlyn vanjaar baie vaart sal hê, want ons het `n paar nuwe spoedvrate bygekry.

“Eric de Beer is terug ná `n enkelbesering hom `n jaar lank van die veld gehou het. Hy lyk selfs `n halwe tree vinniger as tevore,” sê Audier.

“Christo van Rensburg en Derick Stols se buitenseisoense oefening in die gimnasium het vrugte afgewerp en die manne is reg vir die strawwe jaar wat voor lê.”

Audier berig dat Maree (Mr Mijagi) Bester as hoofafrigter terug is, en André Carlse en Paul Neveling steeds `n gedugte span by die o.20s vorm.

“Dit toon stabiliteit in die klub,” sê hy.

“Die kommittee het geringe veranderinge ondergaan, maar almal is lus vir rugby.

“Die spelers oefen hard vir die sewestoernooi einde Februarie by Pirates,” sê die voorsitter.

Simmer speel 5 Maart teen Johannesburg Polisie en wag nog om die laaste oefenwedstryde vas te knoop.

Audier sê die klub gaan hom ook vanjaar op geldinsameling toespits en die omliggende gemeenskap betrek om hom in staat te stel om sy doelwit vir 2017 te kan bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.