GLRU-liga: Simmer wen wipplankryery teen Unie

Germiston Simmer se Louis Britz, Morné en Armand van der Vyver draf teen Unie op. (Foto: Linda Herbst/GS)

Germiston Simmer moes Saterdag swoeg dat dit klap om ʼn wedstryd wat deurentyd wipplank gery het teen Unie in die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se Pirates-grootuitdaagreeks (PGU) net-net te wen.

Simmer het op die ou end die wedstryd in die Germistonstadion met 25-24 gewen. Sy tweede span het Unie met 17-15 geklop, maar die besoekers het die res van die kragmetings gewen. Unie se derde span het met 40-0, die o.21s met 12-7 en die o.19s met 12-0 gewen.

Ryan Dennis, Simmer se voorsitter, sê die eerste span moes sonder die broers Wentzel en Barry Niemand klaarkom. Anton Coetzee het die losskakelposisie gevul, met André Bornman and André Schultz as senterpaar.

“Die wedstryd was so taai as wat te wagte was, en die voortou is deurentyd verwissel,” berig hy.

“Simmer se linkervleuel Eric de Beer het die eerste punte met ʼn drie op die telbord geplaas.

“Quinton Norris het reeds voorheen getoon waartoe hy in staat is, maar toe hy Saterdag die stang vasbyt en onder die pale gaan druk, het dit sy beste vertoning van die seisoen ingelui.”

Dennis sê die spel het strykdeur heen en weer oor die veld gewoed, maar die André-vennootskap in die middelveld het met sleutelduikslae voorkom dat Unie ʼn bres slaan.

Rieme neergelê

“Die Simmer-heelagter, Norris, het die bal in sy 22-gebied van ʼn afskop af gevang, en deur etlike duikslae gebars, voor hy rieme neergelê, en in die hoek gaan druk het.

“Coetzee het nog ʼn slag vir Simmer gaan druk, voor Unie die laaste drie van die wedstryd aangeteken het.”

Dennis sê die jong slot JP Loots wat vir Shaun Thomas as kaptein van die tweede span moes instaan,
het hom onderskei met sy puik beslissings op die veld.

“Die vier strafdoele waarmee die losskakel Rudi Meyer geslaag het, getuig daarvan.

“Robbie Petit het vir ʼn teleurstellende derdespanwedstryd vergoed met ʼn drie in sy tweede wedstryd van die dag as die tweede span se agsteman.”

Hoë pas

Dennis sê die Unie-oumanne het tot Simmer se derde span se nadeel etlike drieë gedruk, en in weerwil van die ou Simmer-spelers Petit en Garth Crombie se pogings, het die telling weereens die gebrek aan diepte in die agterlyn benadruk.

“Simmer se o.21-span het die eerste punte aangeteken, maar dit was ook sy laaste, en Unie het die wedstryd met twee drieë in die tweede helfte beklink.

“Die o.19-wedstryd is teen ʼn hoë pas gespeel, en die drif van die Uniespan het die sege aan hom besorg.

“ʼn Teleurgestelde kaptein, Jeandré Bester, het weerwraak in die tweede ronde belowe.”

Die tweede ronde van die PGU skop eers 24 Junie af, en Dennis het ʼn oproep op spelers gedoen om steeds getrou te oefen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.