GLRU-liga: Teine het 11 jaar op dié dag gewag

randfonteinElf jaar het Randfontein op dié dag gewag – o, en was dit `n soete oorwinning!

Dis hoe lank laas die Teine vir Roodepoort geklop het voor Vrydag se sege van 21-15 in die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se reeks om die Pirates-grootuitdaagbeker, sê Dana van Vuuren, die wenspan se voorsitter.

“Die Castlebeker se tuiste is in Randfontein.”

Van Vuuren sê die Mapogo-Teine, soos die eerste span plaaslik bekend staan, het al hoe nader aan hul volle potensiaal beweeg en dit was die span se beste vertoning dusver.

“Dit het alles voor in die vaste fasette begin, waar die Teine die vuur begin stook het en vining-vinnig was die enjinkamer te warm vir Roodepoort. Met elke opeenvolgende skrum het die Poorte al hoe meer gedisintergreer.

“Die vaskopstut, Ian Pottas, was `n voltreffer met sy skrumwerk, en het soos `n Superrugbyvaskop gelyk. Hy het boonop sy merk gemaak toe hy soos `n senter deur Roodepoort se verdedigingslinie gebreek en oor die lyn geduik het vir `n drie wat op `n deurslaggewende oomblik gekom het.”

Van Vuuren sê die flank Victor Hendriks het met die louere as die speler van die wedstryd weggestap ná sy reusewerkvermoë op die veld.

“Dit was insgelyks `n goeie aand vir die losskakel, Tiaan Nel, wat die spel soos `n ware generaal beheer het en `n groot invloed op die wedstryd teen die Poorte uitgeoefen het.

“Rudi Marx, die Teine se kaptein, het die heeltyd sy hand op die spel gehad en die spelers met goeie kommunikase gelei.

“Elkeen van nommer een tot 15, en van 16 tot 22 het egter gehelp om die Poorte van die veld af te speel,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Ons verwag nog groot dinge vanjaar. Wie weet, dalk gaan Randfontein nog Goue Bekerreeks toe.”

Kosie van Zyl en Pottas het die Teine se drieë gedruk. Nel het agt punte met `n doelskop en twee strafdoele behaal, en Marx het met `n skepdoel geslaag.

Roodepoort het Randfontein se tweede span (die Eagles) 21-7 en die derde (die Valke) 29-8 geklop.

Randfontein se o.21s het 25-16 gewen, en Van Vuuren sê dis `n span om vanjaar dop te hou.

Die o.20-span het die eerste keer vanjaar verloor toe Roodepoort hom 21-14 geklop het.

Randfontein se volgende tuiswedstryd is Saterdag 23 April (vrienskaplik) teen Krugersdorp Harlequins.

Ander uitslae –

Pirates-grootuitdaagliga

Eerste spanne: Raiders 28, Wanderers 22; Johannesburg Polisie 50, Alberton 15.

Tweede spanne: Raiders 32, Wanderes 19; UJ 40, Wits 5; Polisie 13, Alberton 12.

Derde spanne: Wanderers 23, Raiders 7; UJ 78, Wits 5; Polisie 17, Alberton 14.

Onder 21-spanne: Raiders 22, Wanderers 12; UJ 26, Wits 16; Alberton 71, Polisie 0.

Onder 20-spanne: Raiders 22, Wanderers 17; UJ 36, Wits 17; Polisie 22, Alberton 15.

Presidentsliga

Eerste spanne: Jabulani 27, Kagiso Sting 5; Southern Knights 31, Soweto 5; Alexandra Wolves 24, Eldoronians 10.

Onder 20-spanne: Jabulani 24, Kagiso Sting 0; Southern Knights 20, Soweto 17; Alexandra Wolves 26, Eldoronians 7.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.