Randfontein het Saterdag in die eerste ronde van die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se Pirates-grootuitdaagreeks (PGU) geskiedenis teen sy buurman Roodepoort gemaak.
Dana van Vuuren, die voorsitter van Randfontein, laat weet dis die eerste keer dat al vyf die Teine se spanne op die dag se spel die Poorte kon klop.
Die eerste span het met 29-10 in Groep 1 gewen, die tweede met 24-12, die derde met 37-5, die o.21-span met 45-22, en die o.19-span met 33-0.
Die Castletrofee, wat in die derby tussen die twee buurdope op die spel is, pryk eweneens nou in Randfontein se bekerkas.
Kevin de Klerkbeker bly in Alberton
♦ Die Kevin de Klerkbeker is die derde opeenvolgende jaar deur A Square Forklift Alberton verower toe hy Vrydag Unie in Groep 2 van die PGU met 15-8 getroef het.
Alberton se tweede span het met 34-3, die o.21s met 48-14 en die o.19s met 50-23 gewen. Unie se derde span was met 27-0 baas.
Wat die eerste spanne betref, het Rory Lategan, Alberton se klubbestuurder, aan Pale Toe! gesê ʼn goed afgerigte Unie Bulldog-span het die Elande ʼn buitengewoon strawwe stryd besorg.
Die eerste helfte het punteloos geëindig nadat elk van die spanne met twee langafstand-strafskoppogings pale toe misluk het.
“Die tuisspan se vaste vyf het in die eerste helfte die oorhand gehad en talle geleenthede vir die agterlyn geskep, maar die buite-agterspelers kon eenvoudig nie afrond nie.
“Vars uit die kleedkamer het die Alberton-blits Thorn Khumalo die bal met volop beweegruimte ontvang en reggekry wat hy verlede jaar gereeld gedoen het – gaan druk sonder dat ʼn vinger op hom gelê is.”
Lategan sê die Albertonse agttal het nes in die eerste helfte skouer aan die wiel gesit en Unie in die vaste fasette oorheers, en sy skrums en lynstane ontwrig.
“Dit het volop hardloopkans aan die agterlyn besorg.
“Arno (Krappies) Smit het na ʼn stukkie goed berekende spel in die hoek voor die Elandondersteuners gedruk.
“Alberton se derde en laaste drie het gevolg toe Theo Rhodes die bal met ʼn skitterende grondskoppie agter die Bulldogs se verdedigingslinie geplaas het. Jacques van Wyk het dit opgeraap en deur die noodverdediging gebars om te druk.”
Twee nuwelinge in die Albertonspan, Rhodes (agterspeler) en Stuart Austin (voorspeler) is as die spelers van die wedstryd bekroon.
Opgesomde punteleer –
Pirates-grootuitdaagbeker
Groep 1
Eerste spanne
Wits 5, Randfontein 5, NWU Pukke 5, Raiders 5, Pirates 1, UJ 0, Roodepoort 0, Wanderers 0.
Tweede spanne
Raiders 5, NWU Pukke 5, Randfontein 5, Wits 4, Wanderers 1, UJ 1, Roodepoort 0, Pirates 0.
Derde spanne
NWU Pukke 5, Randfontein 5, Wanderers 5, Raiders 4, Pirates 1, Wits 1, Roodepoort 0, UJ 0.
Onder 21-spanne
Wits 5, Randfontein 5, NWU Pukke 5, Roodepoort 1, UJ 0, Wanderers 0, Raiders 0, Pirates 0.
Onder 19-spanne
Pirates 5, Randfontein 5, Wits 5, NWU Pukke 5, UJ 2, Wanderers 0, Roodepoort 0, Raiders 0.
Groep 2
Eerste spanne
Germiston Simmer 5, Harlequins 5, Alberton 4, Unie 1, Soweto Eagles 1, Diggers 0, Johannesburg Polisie 0.
Tweede spanne
Alberton 5, Diggers 4, Soweto Eagles 4, Harlequins 1, Simmer 0, Unie 0, Johannesburg Polisie 0.
Derde spanne
Harlequins 5, Unie 5, Simmer 5, Diggers 0, Alberton 0, Soweto Eagles 0, Johannesburg Polisie 0.
Onder 21-spanne
Alberton 5, Harlequins 5, Diggers 5, Soweto Eagles 1, Simmer 0, Unie 0, Johannesburg Polisie 0.