GLRU-liga: uitslae laat skeef opkyk

logo-pirates`n Paar uitslae in die eerste ronde van die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se Pirates-grootuitdaagreeks laat nogal skeef opkyk.

Die opvallendste is die Goue Beker-klub Pirates se onverwagse (eintlik kommerwekkende) groot oorwinning van 34-10 oor Roodepoort. Die Wes-Randse klub se regrukplanne dra duidelik nog nie die vrug waarop gehoop is nie.

Die keersy is Alberton se tweede span se sege van 15-12 oor die Universiteit van Johannesburg. UJ se beste spelers is wel nog in die reeks om die Varsitybeker betrokke, maar die hoop vlam tog op dat Alberton aan `t herstel is.

Raiders se buitengewoon groot oorwinning van 69-21 oor Randfontein rig `n vroeë waarskuwing dat die span van Industria vanjaar `n harde neut gaan wees om te kraak.

Die Poorte en die Teine se teenspoed laat egter ook die vrees ontstaan dat die kloof tussen die boonste en die onderste spanne in die liga vanjaar selfs groter as verlede jaar kan wees.

Soos te wagte was, het UJ maklik vir Alberton 62-5 en Wanderers vir Unie 50-7 geklop.

Die geskeduleerde wedstryd tussen die eerste spanne van die Universiteit van die Witwatersrand, wat boaan die punteleer in die reeks om die Varsityskild geëindig het, en die nuweling in die Pirates-reeks, Johannesburg Polisie, is op die ou end wel uitgestel.

germiston simmer♦ In die Senior Grootuitdaagreeks het Germiston Simmer verras deur verlede jaar se naaswenner, Harlequins, oortuigend 24-14 te klop nadat die Krugersdopers die vorige wedstryd tussen die twee 87-10 gewen het.

Die nuweling in dié reeks, UJ Soweto, het `n heel skaflike buiging gemaak deurdat Midrand Stingers, verlede jaar se Presidentsligawenner, hom net 17-14 kon baasraak.

♦ Ryan Dennis, Simmer se nuwe voorsitter, sê aanwinste soos Anton Coetzee, Barry Niemand, Wentzel Niemand, Dario Bezuidenhout, Jason Janse van Vuuren, Tinie Ras, Johan Roodt, Wikus Muller, Hannes de Beer en JP Loots vul `n groot leemte wat deur uittredings gelaat is, en het uit die staanspoor `n sterk impak gemaak. Boonop het van die manne wat hul stewels opgehang het, dit weer begin poets.

Die uiteinde was dat Simmer die eerste keer daarin geslaag het om Quins op sy tuisveld aan die Wes-Rand te klop.

Dennis sê desondanks het die gehalte van Simmer se spel wippplank gery.

“Die voorspelers het die eerste 20 minute met konstruktiewe dryfbewegings uit die vaste fasette en beheerde spel in kontaksituasies oorheers.
“Dit het die agterlyn van goeie besit verseker, maar belowende aanvalsgeleenthede uit Simmer se kwartgebied het skipbreuk gely as gevolg van swak hantering en aanslane,” sê Dennis.
“Dit het veroorsaak dat Simmer 90% van die eerste helfte in sy eie gebied gespeel en verdedig het, en die rustydtelling 7-7 was.”
Hy sê die tweede helfte het begin met elk van die spanne wat `n drie gedruk het, en Quins wat die eerste keer met 14-12 voorgeloop het.
“Daarna het Simmer stelselmatig die beheer van die wedstryd oorgeneem en nog twee drieë is deur die agterspelers gedruk vir `n bonuspunt en `n voltal van vyf ligapunte.”

Simmer se drieë is deur Janse van Vuuren, Andrew Gibbins, Wentzel Niemand en Anton Coetzee gedruk.
Ryan sê daar sal dié week baie berekende aandag gegee word aan verskeie aspekte van Simmer se spel by die lynstane, skrums, hantering, kontaksituasies en fiksheid.
“Daarom is die vriendskaplike wedstryd die naweek teen Midrand Stingers uiters belangrik om kombinasies te vestig en soveel moontlike opsies te beproef voor die volgende ligawedstryd op 23 April teen UJ Soweto.”

Germiston Simmer se eerste span saam met Ryan Dennis (voorsitter), Renier Bracey (ondervoorsitter) en Maree Bester (afrigter).

Germiston Simmer se eerste span saam met Ryan Dennis (voorsitter), Renier Bracey (ondervoorsitter) en Maree Bester (afrigter).

♦ Harlequins se tweede span het 10-5 en die derde 40-29 gewen, en die o.20-spanne het 32-32 gelykop gespeel.

Ryan sê ná wat na ‘n goeie begin in die eerste tien minute gelyk het, kon Simmer se tweedes nie hul wedstrydplan verder op die wedstryd afdwing nie.

“Soos die eindtelling aandui, (rustyd 5-5), was dit `n klipharde wedstryd wat tot op die einde nog geswaai kon word. Die werklikheid van hedendaagse rugby is dat verdediging wedstryde wen en in dié opsig was Simmer se eerstelinieverdeding swak, hoewel die kruisverdediging en noodverdediging die span `n paar keer gered het. In dié opsig moet Hein Swart, Marcus Coetzee en Dirkie Koegelenberg (Simmer se speler van die wedstryd) uitgesonder word. Voorts het trae ondersteuning deur Simmer Harlequins toegelaat om heelwat balle by Simmer af te neem.

Simmer het deurgaans goed geskrum, maar ongelukkig het dit by tye in die lynstane gelol en Simmer van broodnodige momentum beroof het. Met die sterk voorrye, goeie lynstaanspringers en baie bedrewe losvoorspelers beskikbaar, kan sake uitgestryk word namate die spelers mekaar beter leer ken,

Agterlangs is die spel goed afgewissel, maar verkeerde hardlooplyne en swak hantering het Simmer heelwat drieë gekos. Ook hier kan tyd raad bring.

Verdediging, ondersteuning en samespel sal veral die aandag geniet, maar Dennis glo Simmer II kan `n krag in die liga word.

Koegelenberg het Simmer se drie gedruk.

♦ Swak verdediging het Simmer III, wat sy liga verlede jaar gewen het, Saterdag die wedstryd teen Quins III gekos, ondanks dat die agttal met veterane soos Rene Audier, Bertus Swart, Riaan Venter en die kaptein, Garth Crombie, skoonskip in die skrums en lynstane gemaak het.

Die agterlyn het manne soos Meyer van Deventer, Robert Petit en Cassie Odendaal ingesluit wat saam amper 40 jaar vir Simmer gespeel het.

Die telling het wipplank gery en dit was eers in die laaste 15 minute dat `n inspuiting van die bank af Quins die oorhand laat kry het, sê Dennis.

“As die derde span sy fiksheid opknap, kan hy `n krag in die liga word.”

Van Deventer, Bradley Odendaal, Brandon Pretoruis (2) en Given Banda het Simmer se drieë gedruk, met Pretorius die speler van die wedstryd.

♦ Dennis sê die o.20-wedstryd het teen `n stywe pas weggespring met omdraaibesit aan die orde van die dag.

“Dit het egter in `n horte-en-stote-affêre ontaard wat min geleentheid vir struktuurspel gebied, maar volop punte opgelewer het.

“Simmer se gelykmakende drie is in die doodsnikke van die wedstryd gedruk.”

Aiden Ancill (2), Keagan das Neves, Justin Liebenberg en Cobus Killian het Simmer se drieë gedruk.

Liebenberg was die speler van die wedstryd.

♦ Ongelukkig is die eerste ligaronde ontsier deur spanne wat op hierdie vroeë stadium reeds punte gegee het. Unie se o.21- en o.20-span en Roodepoort se o.20-span kon nie hul bepalings nakom nie.

Ander uitslae –

Pirates-grootuitdaagbeker

Tweede spanne: Wanderers 52, Unie 0; Raiders 75, Randfontein 10; Pirates 28, Roodepoort 14; Wits 64, Polisie 7.

Derde spanne: Wanderers 19, Unie 13; Randfontein gee punte teen Raiders; Pirates 36, Roodepoort 0; Polisie 43, Wits 17; UJ 50, Alberton 5.

Onder 21-spanne: Roodepoort 33, Pirates 20; Wits 73, Polisie 0; UJ 52, Alberton 0.

Onder 20-spanne: Randfontein 57, Raiders 7; Wits 57, Polisie 0; UJ 52, Alberton 7.

Senior Grootuitdaagbeker

Tweede spanne: Tshuma Stingers 24, UJ Soweto 3.

Onder 20-spanne: Tshuma Stingers gee punte teen Soweto.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.