GLRU-liga: Voorste spanne grawe dieper in

Die voorste spanne in die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se Pirates-grootuitdaagreeks is besig om hulself al hoe dieper in te grawe.

Raiders het Randfontein Saterdag met 75-33 oorskadu; die Universiteit van Johannesburg (UJ) het Roodepoort met 54-15 oorheers; en die NWU Pukke het Wanderers met ‘n oortuigende 45-17 geklop.

Groep 2 het ʼn klompie strawwe tweestryde opgelewer.

Germiston Simmer moes alles in die stryd werp om Unie met 25-24 te klop; Alberton moes spook om Diggers met 33-31 te troef; en Johannesburg Polisie moes wikkel om met 17-13 teen Harlequins van die Wes-Rand te wen.

Die uitslag van die wedstryd tussen Pirates en die Universiteit van die Witwatersrand se eerste spanne was teen plasingstyd nog nie bekend nie, afhangende van bevestiging kragtens die Boksmart-reëls.

In die reeks om die Senior Grootuitdaagbeker het Tshuma Stingers die angel ingelê en Kagiso met 69-0 verwoes; en Southern Knights het Alexandra met 40-5 verpletter.

Ander uitslae –

Pirates-grootuitdaagbeker

Tweede spanne

Wits 31, Pirates 19; Pukke 80, Wanderers 19; Raiders 26, Randfontein 3; UJ 78, Roodepoort 0; Polisie 24, Quins 24; Alberton 10, Diggers 0; Simmer 17, Unie 15.

Derde spanne

Pirates 19, Wits 5; Pukke 65, Wanderers 7; Raiders 33, Randfontein 3; UJ 36, Roodepoort 0; Quins 27, Polisie 7; Alberton 31, Diggers 15; Unie 40, Simmer 0.

Onder 21-spanne

Wits 48, Pirates 14; Pukke 117, Wanderers 7; Raiders 19, Randfontein 17; UJ 47, Roodepoort 9; Polisie 28, Quins 0; Alberton 12, Diggers 7; Unie 12, Simmer 7.

Onder 19-spanne

Wits 70, Pirates 14; Pukke 40, Wanderers 3; Randfontein 47, Raiders 10; UJ 41, Roodepoort 19; Quins 29, Polisie 7; Alberton 29, Diggers 7; Unie 12, Simmer 0.

In sy skik

♦ Betreffennde Simmer se wedstryde die vorige week teen die Soweto Eagles, sê die klub se voorsitter, Ryan Dennis, hy is veral in sy skik met die feit dat die Germistonse klub met vier volle spanne vir ‘n wegbepaling kon opdaag.

Die gasheerklub het egter nie ʼn derde span gehad nie, en sy tweede span was laat sodat ‘n sege van 28-0 vir Simmer kragtens die reeksreëls aangeteken is.

Dennis sê die skeidsregter het ingestem tot ʼn verkorte vriendskaplike wedstryd vir die tweede spanne, wat Simmer met 10-0 gewen het.

“Dit het waardevolle wedstrydtyd aan die Simmer-manne besorg en hulle moes bontstaan om die gevaarlike Soweto-agterlyn in bedwang te hou.”

Die eerstespanbotsing het eweneens laat afgeskop, en Simmer het met 60-14 gewen.

Dennis sê Simmer het met ‘n knal weggespring en tien drieë ingeryg.

Die wenspan se drieë is deur Eric de Beer (linkervleuel, drie), Morné van der Vyver (slot), Quinton Norris (heelagter, twee), Shane Pretorius (buitesenter), Wentzel Niemand (losskakel), Dario Bezuidenhout (skrumskakel) en Anton Coetzee (binnesenter) gedruk. Coetzee het vyf verdoel.

Simmer se onderouderdomspanne het vir ‘n verandering weg van die huis af goed gevaar, sê Dennis.

Die o.21s het met 41-15 en die o.19s met 32-31 gewen.

“Die Soweto Eagles verdien lof vir die wyse waarop hulle vir hul kleiner agttalle met opwindende vaart en aftrappe in die agterlyn vergoed het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.