GLRU: Simmer druk laat vir Alberton se 1ste slae

Die binnesenter Anton Coetzee druk Germiston Simmer se eerste drie. (Foto: Germiston Simmer)

ʼn Drie in die laaste paar minute het Germiston Simmer Saterdag in staat gestel om Alberton sy eerste slae van die seisoen in die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se reeks om die Pirates-grootuitdaagbeker (PGU) toe te dien.

Hy het die fel mededingende kragmeting in koue reënweer met 22-18 gewen, nadat hy rustyd met 17-10 voor was, en Alberton in die tweede helfte kwaai teruggeveg het.

Ryan Dennis, Simmer se voorsitter, sê die dag se wedstryde is vanweë die speeltoestand deur talle hanteerfoute gekenmerk.

Rory Lategan, A Square Forklift Alberton se klubbestuurder, sê die klub se kruis vanjaar is dat hy nie in die eerste helfte aan die gang kon kom nie.

“Die tweede helfte was aansienlik beter, maar nie goed genoeg vir ʼn oorwinning nie.”

Aan die hand van Dennis en Lategan se verslae aan Pale Toe! kan die verloop van die wedstryd soos volg geskets word.

Drie geelkaarte

ʼn Wilde aangee van Simmer se binnesenter, Anton Coetzee, is deur Alberton se buitesenter, Shane Germishuys, onderskep en hy het ʼn drie gaan druk wat verdoel is (0-7).

Coetzee het kort daarna vir sy fout vergoed toe hy self gaan druk het, en die vleuel Armand van Dyk het ná ʼn mooi lopie gaan druk om die telling 10-7 in Simmer se guns te maak

ʼn Voorval pas voor rustyd het daartoe gelei dat twee Simmer-spelers en een van Alberton met geelkaarte gestraf is.

Desondanks het Simmer met 13 man teen 14 met die laaste beweging voor rustyd ʼn verdoelde drie op die telbord geplaas (17-10).

Alberton se skrumskakel, Donovan Putter, het ʼn slag steelkant om geglip en gaan druk, maar die skeidsregter het beslis dat hy oor die doodlyn was.

Daarna het Theo Rhodes sy sentermaat, Germishuys, deur ʼn gaping gestuur, Germishuys het die Simmer-heelagter getrek, en Thorn Khumalo vir Alberton se tweede drie oorgestuur (17-18).

Daar was nog heelwat om voor te speel, maar drie minute voor die einde het Eric de Beer Simmer se wendrie ná ʼn lopie kantlyn langs gedruk.

Die wenspan se Morné van der Vyver was die speler van die wedstryd.

Dennis sê die tweedespanwedstryd was besaai met agterlynfoute, wat veel meer ruimte vir die gevaarlike Alberton-agterlyn geskep het. Die Simmer-manne het gesukkel om die aanslag af te weer, en Alberton het ʼn wegholsege van 49-12 behaal.

Hy sê die swaar agttal van Simmer se derde span het voor oorheers, maar die agterlyn het gesukkel om die nat bal te beheer. Dié baie gelykop stryd is met 22-19 deur Alberton gewen.

Heen en weer

Dennis sê Alberton sê o.21-span het vroeg ʼn verdoelde drie behaal, waarna die spel heen en weer oor die veld gewoed het, tot tien minute voor die einde toe Alberton nog twee doele behaal het om die wedstryd voor Simmer se neuse weg te raap.

“Hoewel die Simmer-span nie teruggestaan het nie, was die swaar Alberton-agttal een te veel in die nat omstandighede. Alberton het met 21-0 gewen.”

♦ Alberton speel Vrydag tuis teen Johannesburg Polisie, en Lategan roep die plaaslike ondersteuners op omdat die uitslag kan bepaal of Alberton vir die promosie-relegasiewedstryd in aanmerking sal kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.