G’n pot goud vir SA spanne aan einde van Reënboog(beker)

Foto: GB Jordaan.

Weens Covid-19-reisregulasies sal die Sharks, Bulls, Stormers en Lions vanjaar met Jan Tuisbly se karretjie ry en nie teen oorsese spanne in die Reënboogbeker-reeks te staan kom nie.

Daar is onder meer na 12 plekke in die Verenigde Koninkryk en selfs na die Midde-Ooste gekyk om die Suid-Afrikaners veilig gedurende die veldtog in die onsekere Covid-19-tye te huisves.

“Dit is ’n massiewe teleurstelling, maar die uurglas het eenvoudig net leeggeloop. Ons het alles in ons vermoë gedoen om oplossings vir die uitdagings te vind, maar die legkaartstukke wou net nie in plek val nie,” het Jurie Roux, uitvoerende hoof van SA Rugby, gesê.

Volgens ’n SA Rugby-verklaring sal die nuutste wending nie ’n negatiewe invloed op Suid-Afrika se verhouding met PRO14-rugbybase hê nie en daar word reeds na die komende seisoene gekyk.

Maar in die plek van vanjaar se Reënboogbeker-reeks sal ’n meer plaaslike reënboog sy verskyning maak.

Die vier Suid-Afrikaanse spanne sal nou tuis- en wegwedstryde teen mekaar speel en die nuwe bepalings sal binnekort uitgereik word.

Die Europese spanne gaan egter soos aanvanklik teen mekaar kragte meet, met spanne wat loslootjies sal geniet wanneer hulle teen die Suid-Afrikaners sou gespeel het.

“Baie werk is agter die skerms gedoen om die oorspronklike reeks ’n werklikheid te maak. Dit was egter g’n maklike taak nie want verskillende uitdagings – waaronder ’n tweede en derde Covid-19-golf – het gesorg dat dinge die heeltyd verander,” het Martin Anayi, uitvoerende hoof van PRO14 Rugby, gesê.

“Ons kon nie meer van ons unies, personeel en SA Rugby verwag wat beplanning betref nie, maar ons kon net nie betyds met die perfekte oplossing vorendag kom om die Suid-Afrikaanse spanne in Europa toe te laat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dirk Mostert ·

Mooi man! Ons 4 spanne speel hier teen mekaar in die Europese kompetisie. Seker met ‘n semi-finaal vir die 4 spanne wat bo-aan die logs eindig, gevolg met finaal. Laat die ou Curriebeker liewers herleef met 14 spanne.

Kokkie ·

Ek is al so ‘n bietjie moeg om aanmekaar na dié vier spanne te kyk. Rus in vrede SA rugby.

Oros Soros ·

Dan is die Leeu toer ook van die baan as sake so staan.

Frans ·

SARU volg nou in DSTV se voetstappe met herhalings asof daar geen Springbokmateriaal in kleiner unies is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.