G’n teepartytjie vir VSA teen Engelse

Engeland het net té veel skietgoed vir die VSA gehad. (AP Photo/Christophe Ena)

In 1773 het die destydse Amerikaanse koloniste hul Britse tee in die see by die Boston-hawe gedompel. Hulle het dit gedoen uit protes teen Brittanje se belastingwette en die hele storie het later as die Bostonse Teepartytjie bekendgestaan.

Maar vandag was daar g’n teepartytjie vir die Amerikaners in hul Wêreldbeker-wedstryd teen die Engelse in Japan nie. Trouens, hulle is heeltemal oordonder.

Die Rose het die Arende se vlerke behoorlik geknip om uiteindelik 45–7 te wen. In die proses het die Engelse ’n duidelike waarskuwing aan die ander trofee-aanspraakmakers gegee: “Moenie met ons skoorsoek nie.”

Eddie Jones se troepe beskik oor heelwat individuele sterre: van Joe Launchbury en Lewis Ludlam onder die voorspelers, tot Owen Farrell en Kie in die agterlyn.

In George Ford, wat vandag die kapteinsleisels vasgehou het, het hulle ’n baie talentvolle losskakel wat ook drieë kan druk wanneer sy skopradar effens uit is.

Maar soos Naas Botha altyd sê – daar is géén plaasvervanger vir spoed nie. En in Joe Cokanasiga beskik Engeland oor spoed in ’n reusepakket.

Cokanasiga laat die skaal op 122 kg kreun terwyl hy 1,93 m in sy sokkies staan. Wanneer dié vleuel op volle vaart is, kan ’n mens verdedigers verskoon as hulle nie té gretig is om te têkkel nie.

Die Rose het hul teenstanders voos geskrum en die rolmaalbeweging uiters doeltreffendeffektief toegepas. Dan het die agterlyn hulle ook plat gestoomroller.

Die wedstryd het ’n uiters aanskoulike einde gehad waar altwee spanne lekker met die bal gehardloop het – amper soos in sewesrugby. Die Amerikaners se avontuurlustige spel is uiteindelik beloon toe Bryce Campbell vir ’n skitterende drie in die 82ste oorgeval het.

Engeland is egter baie gevaarlik vanjaar en ander spanne sal hul huiswerk behoorlik moet doen om vir hulle ore aan te sit. Hulle beskik oor die nodige vaardighede en oor ’n rits sterre.

Amerika is hoegenaamd nie ’n slegte span nie. Die Engelse was net baie beter.

  • Puntemakers:

Engeland: Drieë: George Ford, Billy Vunipola, Luke Cowan-Dickie, Joe Cokanasiga (2), Ruaridh McConnochie, Lewis Ludlam. Doelskoppe: Ford (5).

VSA: Drie: Bryce Campbell. Doelskop: AJ MacGinty.

  • Amerika se Joe Quill het ’n rooi kaart gekry nadat hy vir Owen Farrell met sy skouer geloop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dubbelloop ·

Swak referee om vir Joe Quill n rooi kaart te gee teen Owen Farell, maar die bleek siel het nie eers n waarskuwing destyds teen Esterhuizen gekry nie.

Frans C ·

Engeland onder Eddie Jones is lankal besig om waarskuwings uit te stuur en dit was nie Engeland se ‘A’span nie wat die Amerikaners so opgedons het nie.Waarom is ou Kolla nou so stil?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.