Goeie kans op verrassings in Curriebekerreeks

Daar bestaan ʼn goeie kans dat Saterdag se Curriebekerbotsings een of meer verrassings kan oplewer.

Op papier lyk dit na ʼn uitgemaakte saak dat die Cheetahs (eerste op die punteleer) die Griekwas (vierde) behoort te klop; dat die Sharks (tweede) met die Goue Leeus (vyfde) behoort af te reken; en dat die Blou Bulle (derde) die Westelike Provisie (sesde) behoort te looi.

Die saak is egter nie so eenvoudig nie, en nie een van die “buiteperde” gaan sonder meer die knie buig nie.

Die kragmeting tussen die Cheetahs en Griekwas in Bloemfontein is een van die oudste ware provinsiale derbies in die land, en die voorloper en verdedigende kampioen kan ʼn klipharde aanslag van sy buurman verwag.

Die Diamantvelders se afgelope sege teen die WP behoort hulle selfvertroue te bou, terwyl die Vrystaters kan sukkel om hul fokus op die Curriebeker te behou, met hul Pro 14-deelname wat voor die deur staan.

Die Sharks moet op hul beurt teen tamheid waak, wanneer hulle op Ellispark hul derde wedstryd in agt dae speel, teen die Goue Leeus wat Woensdag ʼn blaaskans geniet het.

Die tuisspan kon dusver net een uit drie wedstryde wen, en sy ondersteuners verwag beter van hom.

Dit raak ook gevaarlik wanneer die Blou Bulle as die oorweldigende gunsteling Nuweland toe reis, en oorgerustheid kan sake vir die besoekers beduiwel.

Die Streeptruie is tweede laaste op die punteleer, ʼn ongewone posisie vir hulle, en tensy daar iewers ʼn groot skroef los is, kan dit hulle voor hul tuisskare tot ʼn verrassing aanspoor.

Opgesomde punteleer –

Cheetahs 15, Sharks 15, Blou Bulle 11, Griekwas 9, Goue Leeus 8, WP 6, Pumas 6.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ben Spreeth ·

Wat die los skroef by die WP aanbetref, dis n feit. Daardie skroef is lankal los, eintlik meer as een. Die wat weet hoekom wil nie se nie, die res weet nie. Dinge gaan beslis nie hierdie Curriebekerseisoen regkom nie.
Jy maak nie die hele huis skoon as net die skoorsteen vuil is nie. Hier is die hele huis vuil, maar net die skoorsteen word altyd skoongemaak. Die feit dat Remgro onttrek het as borg en die Unie in werklikheid bankrot is met n onsekere toekoms vir die spelers, help ook nie juis nie.

Frans C ·

Die gedurige beweeg van spelers van een unie na ‘n ander maak nie Suid Afrikaanse rugby beter nie.Dit is net ‘n tydelike oplossing vir die spanne wat kan bekostig om soveel spelers te kontrakteer dat dit eintlik ‘n naarheid is.

Die Superrugbyreeks het geleer dat Curriebekersukses nie noodwendig oorgaan in
Superrugby sukses nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.