Goeie nuus oor Pollard-fiksheid

Suid-Afrika se Handré Pollard. (Foto: Charly Triballeau/AFP. )

Volgens berigte kan die Springbokke ʼn sug van verligting slaak oor Handré Pollard se wedstrydfiksheid.

Die Springbok-losskakel het ’n kuitbesering opgedoen en hy was nie gereed vir verlede naweek se Premierliga-halfeindstryd tussen die Leicester Tigers en die Sale Sharks  nie.

Die Tigers het egter intussen aan Rugby365 bevestig dat Pollard nie te lank op die krukkelys sal wees nie; ʼn brokkie nuus wat soos musiek vir Jacques Nienaber en die res van die Springbok-bestuur moet klink.

Die 29-jarige speler was vanjaar een van Leicester se sterre nadat hy van ʼn kniebesering herstel het.  Hy het onder meer 19 punte in sy span se sege teen die Bristol Bears aangeteken.

“Ek het ʼn moeilike vier jaar agter die blad en beserings het gesorg dat dinge nooit werklik aan die gang wou kom nie. Maar dit is baie lekker om net weer met bestendigheid en ritme te speel,” het Pollard destyds in ʼn onderhoud met die Tigers se amptelike webblad gesê.

“Ek geniet tans my rugby. Ek dink trouens dat dit die eerste keer in jare is dat ek dit só baie geniet. Dinge verloop tans goed op die veld, maar ek weet dat daar nog harde werk voorlê.”

Die oudleerder van Paarl Gimnasium kan ʼn deurslaggewende rol vir die Springbokke tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi speel.

Hy is bestendig agter die skopkelkie terwyl hy ook ervaring saam met Montpellier in die Franse rugbyligas opgedoen het.

Daarbenewens het hy ook die Webb Ellis-trofee in 2019 saam met die Springbokke omhoog gehou.

Bepalings:

8 Julie: Springbokke teen Australië (Loftus Versfeld)

15 Julie: Springbokke teen Nieu-Seeland (venue moet nog bevestig word)

29 Julie: Springbokke teen Argentinië (Ellispark)

5 Augustus: Springbokke teen Argentinië (venue moet nog bevestig word)

19 Augustus: Springbokke teen Wallis (Principality-stadion)

25 Augustus: Springbokke teen Nieu-Seeland (Twickenham)

10 September: Springbokke teen Skotland (Stade Vélodrome)

17 September: Springbokke teen Roemenië (Stade de Bordeaux)

23 September: Springbokke teen Ierland (Stade de France)

1 Oktober: Springbokke teen Tonga (Stade Vélodrome)

14‑28 Oktober: Wêreldbeker-uitspeelwedstryde

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.