Goeie nuus vir die Lions met die intrapslag

Reeds met die eerste wedstryd ná die afgelope Superrugby-reses sal daar Vrydag vir die Lions goeie nuus wees wanneer die Rebels en die Waratahs in Melbourne kragte meet.

Die Lions kan, al loop hulle tans voor in die Suid-Afrikaanse afdeling van die Superreeks, nog uit die uitspeelrondes gehou word indien hulle sou verloor en as die Jaguares bo hulle eindig met twee Aussiespanne wat ook meer ligapunte as hulle het.

Die Waratahs is tans ʼn enkele punt voor die Rebels en vir die verloorder, met net twee wedstryde wat dan oorbly sal die stryd om steeds die Lions verby te steek, ʼn feitlik ʼn onbegonne taak wees.

Selfs ʼn gelykopuitslag in Melbourne sal vir Swys de Bruin-hulle ekstra asemskepkans gee.

♦ Ongeag wat in Melbourne gebeur, sal die Lions Saterdag in Durban in die derby teen die Sharks hul huidige voorsprong ʼn hupstoot kan gee deur te wen. Verloor hulle egter, is daar vir die Sharks dan steeds so ʼn (uiters) geringe kansie om die Lions verby te steek.

Daar sal 17 Springbokke van die afgeloope toetse in die wedstryd speel ‒ 11 aan die Sharks se kant en ses by die Lions. ʼn Interessante tweestryd sal dié tussen die twee jong Bokvleuels Aphiwe Dyanti en S’bu Nkosi wees.

Met die Lions wat feitlik op volle sterkte is en hul kaptein Warren Whiteley en Malcolm Marc ná hul beserings terug het, sal dit vir die KwaZulu-Natallers, selfs op Kingspark, ʼn gedugte taak wees om dié een af te trek.

ʼn Mens sê dit in ʼn seisoen waar die Lions nie naastenby lyk na die span van die afgelope twee jaar nie.

♦ Die Lions se ander druk kom natuurlik van die Jaguares wat in hul nekke blaas en net ses punte agter hulle op die punteleer is. Die Jaguares het tot dusver al drie die Suid-Afrikaanse spanne in Argentinië pak gegee en behoort dit Saterdag teen die Stormers weer te doen.

Wat? Ná die geploeter teen Wallis en Skotland?

Ja, want die Argentyne het, onder die nuwe afrigter Mario Ladesma, vanjaar hul beste Superseisoen tot op die hede. Die gestrompel drie seisoene onder Daniel Hourcade wat maar eenvoudig nie die beste uit die span kon kry nie was nie in hul afgelope vyf oorwinnings, vier daarvan in Australasië, te bespeur nie.

Die Jaguares het benewens Saterdag se wedstryd teen die Stormers nog twee wat voorlê en die Lions nog net een, oor twee weke teen die Bulls op Ellispark.

Dis sal verras as die sukkelende Stormers, met hul klomp moeggespeelde Springbokke en die oorsese vlug, dié een wen.

♦ Die Bulls kom in Singapoer teen die Sunwolves te staan, wat verreweg hul beste rugby speel en beste seisoen nóg beleef. Ja, die Bulls het voorverlede jaar oorsee teen hulle vasgeval, en dit is nie ʼn geval van sommer net opdaag en punte vat teen die Japanse span nie.

John Mitchell het boonop ʼn bietjie aan sy beste span verstel as deel van sy bouplan vorentoe. Met die lank aflê, die afgelope toetse waarby vyf van die spelers betrokke was en nou die lang reis, kan sake dalk skeef loop.

Maar dis onwaarskynlik.

Soos vir die Sharks is daar vir die Bulls ook nog ʼn wensdenkkans as alles oral vir hulle na wense verloop, maar dit is gewis, soos vir Robert du Preez-hulle in Durban, nie deel van die Bulls se agenda nie.

♦ In Vrydag se ander wedstryd in Australië skop die Blues Vrydag tuis teen die Reds die verrigtinge ná die toetsnaweke af (09:35). Die Rebels en die waratahs speel om 11:45.

Saterdag se rugby begin met die stryd tussen twee van die vier Nieu-Seelandse spanne wat sterk staan om in die kwarteindronde te speel. Die tuisspan, die Highlanders, ontvang die Chiefs nie in Dunedin nie  (09:35) en met net ʼn skrale voorsprong van drie ligapunte is daar vir albei baie op die spel.

Dis dus onverstaanbaar hoekom die Highlanders ingestem het vir die wedstryd in Suva (Fidji) waar die Chiefs se ondersteuning veel groter is.

Daarna kom die Brumbies tuis teen die Hurricanes, tweede op die punteleer, te staan (11:35) voordat die Bulls in Singapoer opdraf.

Suid-Afrikaanse spanne en teenstanders ‒

Sunwolves vs Bulls, Singapoer, Saterdag 13:55
Sunwolves
15 Gerhard van den Heever, 14 Semisi Masirewa, 13 Jason Emery, 12 Michael Little, 11 Akihito Yamada, 10 Hayden Parker, 9 Keisuke Uchida, 8 Yoshitaka Tokunaga, 7 Shunsuke Nunomaki, 6 Willie Britz, 5 Uwe Helu, 4 James Moore, 3 Takuma Asahara, 2 Jaba Bregvadze, 1 Craig Milla. Bank: 16 Yusuke Niwai, 17 Shintaro Ishihara, 18 Hencus van Wyk, 19 Grant Hattingh, 20 Rahboni Warren-Vosayaco, 21 Fumiaki Tanaka, 22 Rikiya Matsuda, 23 Ryoto Nakamura
Bulls
15 Warrick Gelant, 14 Jamba Ulengo, 13 Jesse Kriel, 12 Johnny Kotze, 11 Divan Rossouw, 10 Handré Pollard (kaptein), 9 Embrose Papier, 8 Hanro Liebenberg, 7 Jannes Kirsten, 6 Marco van Staden, 5 RG Snyman, 4 Jason Jenkins, 3 Conraad van Vuuren, 2 Jaco Visagie, 1 Pierre Schoeman. Bank: 16 Edgar Marutlulle, 17 Simphiwe Matanzima, 18 Morné Smith, 19 Thembelani Bholi, 20 Nic de Jager, 21 André Warner, 22 Manie Libbok, 23 Dries Swanepoel.

Sharks vs Lions, Kingspark, Saterdag 17:15
Sharks
15 Curwin Bosch, 14 S’bu Nkosi, 13 Lukhanyo Am, 12 André Esterhuizen, 11 Makazole Mapimpi, 10 Robert du Preez, 9 Cameron Wright, 8 Dan du Preez, 7 Jean-Luc du Preez, 6 Phillip van der Walt, 5 Ruan Botha (kaptein), 4 Tyler Paul, 3 Thomas du Toit, 2 Akker van der Merwe, 1 Beast Mtawarira. Bank: 16 Chiliboy Ralepelle, 17 Juan Schoeman, 18 Ross Geldenhuys, 19 Hyron Andrews, 20 Jacques Vermeulen, 21 Louis Schreuder, 22 Marius Louw, 23 Lwazi Mvovo.
Lions
15 Andries Coetzee, 14 Ruan Combrinck, 13 Lionel Mapoe, 12 Harold Vorster, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Elton Jantjies, 9 Ross Cronjé, 8 Warren Whiteley (kaptein), 7 Cyle Brink, 6 Kwagga Smith, 5 Franco Mostert, 4 Marvin Orie, 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Dylan Smith. Bank: 16 Corné Fourie, 17 Jacques van Rooyen, 18 Johannes Jonker, 19, Lourens Erasmus, 20 Hacjivah Dayimani, 21 Marnus Schoeman, 22 Nic Groom, 23 Courtnall Skosan.

Jaguares vs Stormers, Buenos Aires, Saterdag 21:40
Jaguares – span nog nie gekies nie.
Stormers
15 Dillyn Leyds, 14 Craig Barry, 13 JJ Engelbrecht, 12 Damian de Allende, 11 Raymond Rhule, 10 Jean-Luc du Plessis, 9 Dewaldt Duvenage, 8 Sikhumbuzo Notshe, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi (kaptein), 5 Jan de Klerk, 4 Cobus Wiese, 3 Wilco Louw, 2 Bongi Mbonambi, 1 Steven Kitshoff. Bank: 16 Ramone Samuels, 17 JC Janse van Rensburg, 18 Frans Malherbe, 19 Salmaan Moerat, 20 Nizaam Carr, 21 Kobus van Dyk, 22 Justin Phillips, 23 EW Viljoen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

nico k ·

Ek dink die kans vir die Leeus om nie bo aan die afdeling te eindig nie, is darem baie klein. Waarop hulle wel moet hoop is dat die Waratahs verloor teen die Rebels. Sou die Waratahs wen, kan hulle bo die Leeus eindig. Die verskil is die verloorder speel ‘n kwarteindronde wedstryd teen ‘n Nieu-Zeelandse span, heelwaarskynlik die Highlanders, wat moeilik gaan wees. Die wenner speel ‘n SA/Australië span of Jaquares. Beslis ‘n makliker wedstryd.

Pieter ·

Net ses Springbokke in die Lions span? Gaan tel weer ek sien ten minste TIEN.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.