Goeie oefenlopie vir Stormers in hardloopstryd teen Bulls

Dillyn Leyds het weer met sy teenaanvalle en voorgevoel beïndruk (Foto: GB Jordaan)

Elf drieë, heelwat spanning en lekker rugby, ʼn onervare skeidsregter wat hier en daar na albei kante toe kleigetrap het en uiteindelik die regte uitslag.

Dit is kortliks die opsomming van die Stormers se 41-33 oorwinning Saterdag teen die Bulls op Loftus waar daar baie gehardloop is; nie goed genoeg afgerond is nie en die Bulls se middelmatige verdediging soos verlede week teen die Kings miskien die rede was waarom hulle nie gewen het nie.

Die Bulls het weer, soos twee weke gelede teen die Sharks, die soort en gehalte rugby gespeel waaraan Nollis Marais twee jaar lank gewerk het. Daar is nog heelwat hanteerfoute, maar die gewilligheid en die selfvertroue om die bal te laat werk is daar.

By die Stormers is dít natuurlik tweede natuur, en hulle buite-agterspelers het gedy in die soms losse wedstryd wat voorlangs darem met die nodige ywer en eerlike harde werk aangepak is.

Die Stormers speel aanstaande naweek tuis teen die Chiefs in ʼn kwarteind, en die een ding waaroor hulle gerus kan voel, is hulle jong losskakel Damian Willemse. Sy skopwerk lol en kan hulle dalk in ʼn taai wedstryd kos, maar sy algemene en taktiese spel is op standaard.

Hy het pas, in Mei, eers 19 geword, en hy lyk na die ware Jakob vir die toekoms.

Die slotstryd tussen die twee Springbokke Eben Etzebeth en Pier-Steph du Toit vir die Kapenaars en RG Snyman en Jason Jenkinson was die toegangsgeld werd, en Shaun Adendorff het in sy eerste opdrafwedstryd op die vlak die verskil gemaak wat verlede week teen die Kings nodig was.

Vir die Stormers was hierdie wedstryd ʼn goeie kleedrepetisie met die oog op aanstaande week. Hulle is voorlangs goed getoets; sal hul ingooiwerk by die lynstane moet opknap en ook strykdeur hulle volle skrumgewig moet gebruik.

Hulle is ook in die wedstryd duidelik daarteen gewaarsku om té los te speel, want die Chiefs sal dit onteenseglik kan uitbuit.

Dit was deurgaans baie gelykop, met die rustydtelling wat 22-21 in die guns van die besoekers was – en die een punt verskil was eintlik maar ʼn kenmerk van die wedstryd. Dit was steeds so toe speeltyd verstreke was en die Kapenaars van omkeerbesit weggebreek en Seabelo Senatla gaan druk het om dit ses drieë teen vyf te maak en die gaping na agt punte te rek.

Uitblinkers agterlangs was volop, met Dillyn Leyds en Cheslin Kolbe se opportunisme, die harde werk van Duncan Matthews en die senterspel van die Bokke Jan Serfontein en Jesse Kriel die indrukwekkendste.

Puntemakers –

Bulls (21) 33: Drieë: Jason Jenkins, Duncan Matthews, Jesse Kriel 2, Piet van Zyl. Doelskoppe: Tian Schoeman 4.
Stormers (22) 41: Drieë: Cheslin Kolbe, Sikhumbuzo Notshe, Dillyn Leyds, Siya Kolisi, Damian Willemse, Seabelo Senatla. Doelskoppe: Willemse 3, Kolbe. Strafdoel: Willemse.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaybee ·

Het die wedstryd geniet, net jammer my span het verloor, Geen verskonings. Baie geluk aan die Stomers en voorspoed vir volgende naweek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.