Gold se vertrek vir Sharks geen verrassing nie

gary-gold

Gary Gold (Foto: thesun.co.uk)

Nie alweer nie, sou die Sharks se ondersteuners seker gesug het toe hulle die week verneem het dat Gary Gold as direkteur van afrigting en ook hoofafrigter van die Sharks se Superspan bedank het.

Sy skielike bedanking behoort niemand te verbaas nie, want die Sharks se omset van afrigters is amper berug. Sedert 1995 het hulle 12 hoofafrigters gehad en vanaf 2013 vyf.

Dit is veral die afgelope 20 jaar dat geen afrigter dit lank by die Sharks uitgehou het nie. Rudolf Straeuli het wel in 2002 na twee suksesvolle jare bedank omdat hy Springbokafrigter geword het, en Dick Muir is in 2008 deur Peter de Villiers as assistent-Springbokafrigter aangestel.

♦  Ian McIntosh het die afrigtersleisels in 1986 oorgeneem nadat hy van Zimbabwe af Durban toe gelok is. Hy was aan die stuur toe die destydse Natal in 1990 en 1992 hul eerste twee Curriebekertitels gewen het en het toe in 1993 die Springbokafrigter geword.

♦  Harry Viljoen is van assistent- tot hoofafrigter in McIntosh se plek bevorder maar is die volgende jaar weg omdat die heen-en-weer vlieëry van Johannesburg te veel was met ʼn sakeonderneming waarna hy moes omsien.

♦  Len Olivier word toe die hoofafrigter, en toe het McIntosh weer in 1995 oorgeneem nadat hy deur Louis Luyt as Bokafrigter in die pad gesteek is.

♦  Toe hy in 1999 besluit hy’t genoeg gehad, het die voormalige Springbokheelagter Hugh Reece-Edwards by McIntosh as afrigter oorgeneem.

(Die latere Springbokafrigters Jake White en Allister Coetzee was Reece-Edwards se assistentafrigters!)

♦  Hulle is al drie in 2001 vervang toe Straeuli met Kobus van der Merwe as sy assistent aangestel is. In 2002 het Clinton Isaacs vir Van der Merwe as assistentafrigter vervang.

♦  Kevin Putt, die Nieu-Seelander wat vir Natal gespeel het en ook Springbokskrumskakel was, het Straeuli opgevolg toe hy as Bokafrigter aangewys is. Theo van Rensburg, Springbokheelagter met Suid-Afrika se hertoelating tot internasionale rugby in 1992, was Putt se assistent.

♦  Putt het langer as die meeste gehou, maar ook hý moes toe die pad vat en is in 2006 deur Dick Muir vervang

John Plumtree was Muir se assistent en het in 2007 die hoof-Curriebekerafrigter geword nadat Muir die Sharks tot die eindstryd in die Super12 gebrei het maar toe oorsee is om sy kennis uit te brei.

Muir het toe in 2008 assistent-Bokbreier geword.

♦  Plumtree, soos Putt ʼn Nieu-Seelander, het jare lank vir Natal rugby gespeel en het ook die Blitsbokke verteenwoordig. Hy het in 2008 die Sharks tot hulle eerste Curriebekertitel sedert 1996 gebrei en dit in 2010 herhaal. Sy span was in die 2012-Supereindstryd maar het in 2013 gesukkel.

John Smit het toe kort na sy aanstelling as hoofbeampte van die Sharks-maatskappy in 2013 vir Plumtree voor die Curriebekerreeks in die pad gesteek.

♦  Brendan Venter is as eers as konsultant en toe direkteur van rugby aangestel. Brad Macleod-Henderson en Sean Everitt het gesamentlik die afrigting gedoen maar na die suksesvolle Curriebekerseisoen in 2013 het Venter bedank.

♦   Jake White, wat toe by die Brumbies afgerig het, is deur sy voormalige Bokkaptein Smith in Venter se plek aangestel met Brad Macleod-Henderson en Sean Everitt as sy assistente.

White het net ʼn jaar gehou en het toe einde 2014 bedank.

♦  Gary Gold is as direkteur van rugby aangestel maar moes die leisels as hoofafrigter vasvat toe Macleod-Henderson na ʼn swak Superseisoen bedank het.

♦  Robert du Preez het Gold vanjaar in die Superreeks bygestaan en was die hoof-Curriebekerafrigter, Hy sal aanstaande jaar ook verantwoordelikheid vir die Super-franchisespan hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.