Goue Beker: 2 klubs diep in die skuld by Saru

Twee van die klubs wat van Saterdag aan die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale klubreeks om die Goue Beker deelneem is diep in die skuld by die nasionale beheerliggaam.

Tygerberg (Westelike Provinsie) en Swallows (Grens) sal hul insluiting as promotorskeuse op die veld moet regverdig.

Die status van uitnemendheid wat die reeks die afgelope paar jaar bereik het, is sterk geskoei op die uitdunreeks wat die afgelope twee jaar verseker het dat die deelnemers suiwer op meriete aangevul is. Voor dit – en in weerwil van goeie vertonings deur party van die destydse promotorskeuses – het die reeks gesukkel om die land in dieselfde mate as met die ou klubkampioenskap aan te gryp.

Niks het ’n groter bydrae tot die statusopheffing van die Goue Beker gelewer nie as die verhaal van Durbanville-Bellville wat in 2015 die heel laaste was om op meriete in ’n heruitdun vir die reeks in aanmerking te kom, en toe die reeks gewen het.

Dit kan aanvaar word dat ’n gebrek aan geld – en waarskynlik ook tyd – die terugval op die ou stelsel genoodsaak het, maar ’n wesenlike gevaar bestaan dat die aansien van die reeks in gedrang kan kom. Daar was verlede jaar al ’n ongemaklike groot kloof in heeltemal te veel uitslae, al is die deelnemers suiwer op meriete aangewys.

Borge word al hoe skaarser, maar sou dit nie vorentoe moontlik wees om ’n uitdunreeks (met, byvoorbeeld, die naaswenners van die agt bonde wat die vorige jaar se kwarteinders opgelewer het) in ’n afsonderlike reeks met ’n eie borg te omskep nie?

Nietemin, Tygerberg en Swallows word die kans gebied, en ʼn dure plig rus op hulle om die Goue Bekerreeks se status te help handhaaf.

Dis in klubrugby se belang dat die reeks se huidige momentum voortduur en toeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.