Goue Beker: al vier kan skouspel optower

gbhalfeindUitkloprugby is selde mooi rugby, maar al vier spanne in die halfeindronde Sondag van die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker is in staat om skouspelagtige vyftienmanrugby te speel as die geleentheid hom voordoen.

Die verdedigende Goue Beker-kampioen, Durbanville-Bellville (Westelike Provinsie), pak die huidige WP-kampioen, Valsbaai, op Durbanville; en die vorige houer van die Goue Beker, Rustenburg Impala (Luiperds), het op sy tuisveld in Rustenburg met die heersende Valke-kampioen, Brakpan, te kampe.

Dis vier baie-baie sterk klubspanne wat mekaar aandurf en dit lyk heel onwaarskynlik dat die halfeindronde dieselfde antiklimaks met wegholseges as die kwarteindronde sal oplewer.

Ook wat hardlooprugby betref, sal dit waarskynlik tweede viool speel tensy een van die spanne voorlangs die oorhand kry.

Diegene wat `n klipharde voorspelerstryd kan waardeer, sal hul lippe aflek, wat dit is omtrent al wat met stelligheid voorspel kan word – die aggtalle sal in albei wedstryde in `n stryd om den bloede gewikkel wees.

Dit mag `n cliché wees, maar bepaalde waarhede kan nie ontken word nie: die twee spanne wat die minste foute maak, sal tot die eindstryd deurdring. Dit sal die opperste konsentrasie verg.

Die wedstryd in Durbanville is `n kompliment vir die gehalte van klubrugby in die WP.

Durbell het geweldige struikelblokke sedert die vorige reeks te bowe gekom en getoon hy het die karaktersterkte om onder druk te presteer. Sy sprokiesverhaal van verlede jaar het eintlik nog nie tot `n einde gekom nie.

Valsbaai het die reeks, in sy eerste deelname daaraan, as `n onbekende faktor begin, maar die wyse waarop hy die berugte dun lug van die Hoëveld in die kwarteindronde oorkom het om Pretoria Polisie 40-12 op Loftus Versfeld te klop, sal vorentoe een van die legendes van die reeks word en veral in die Kaapse braaikamers oor en oor vertel word.

Dis seker regverdig dat die kusspanne mekaar by seevlak en die binnelandse spanne mekaar op die Hoëveld aandurf. Wat dit vir die eindstryd voorspel, sal nog gesien moet word.

Nog een van die min sekerhede van Sondag se wedstryde is dat Impala en die Panne se botsing kort duskant oorlog sal omdraai. Geeneen van die twee is juis bekend daarvoor dat hy `n geneëntheid het om die ander wang te draai nie.

Albei is onoorwonne in die reeks en sal die staus quo met mag en mening wil handhaaf. Dit sal nie verras as die kragmeting bykomende tyd verg nie.

Daar is noodwendig volop talent in die vier spanne en nog `n gegewe is dat `n hele paar talentjagters op Durbanville en in Rustenburg teenwoordig sal wees en die spelers op TV (albei wedstryde word gebeeldsaai) sal dophou.

Dit skep die gevaar dat spelers te veel op eie houtjie kan wil doen, en is iets waarteen gewaak sal moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jonathan Lawrence ·

Thanks for the updates. Stumbled on your site by accident and have been hooked ever since. Gold Cup a fantastic advert for club rugby and found myself looking forward to these games more than the Currie Cup or Tri Nations. UTB.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.