‘Goue Beker bewys Carltonliga is hardste in SA’

Carltonspanne se vertoning vanjaar in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale reeks om die Goue Beker (GB) bewys dat die Blou Bulle se senior reeks die hardste klubliga in Suid-Afrika is.

Só sê Ben Eybers, die voorsitter van Quins-Bobbies-rugby (QBR), na aanleiding van die twee GB-halfeinders – QBR en Rustenburg Impala – wat die Carltonliga vanjaar opgelewer het.

Op die koop toe het die Blou Bulle se reeks ook die huidige Varsitybeker-kampioen, Tukkies, en die Noorderbonde se Assupol-kampioen, die Naka Bulle, opgelewer.

Eybers is in sy noppies met QBR se vertoning in sy nooiensjaar in sowel die Carlton- (wenner) as die GB-reeks (halfeinder).

Die klub het vroeër vanjaar tot stand gekom toe twee van Pretoria se oudste klubs, Harlequins en Polisie, saamgesmelt het.

Oor QBR se uitvaart uit die GB-reeks toe College Rovers (KwaZulu-Natal) hom met 31-28 getroef het, sê Eybers dit het gevoel of QBR eers in die tweede helfte opgedaag het, nadat College Rovers voor rustyd 31 punte sonder teenspraak op die telbord geplaas het.

“QBR se voorspelers het gevuur soos ʼn vuurwarm V8, maar sy agterspelers het oorgretig voorgekom.

“Chris Jordaan, Rovers se losskakel en kaptein, wat op die ou end as die speler van die wedstryd aangewys is, het met twee puik uitgeë sy span op die voorvoet geplaas.

“QBR het egter nie gaan lê nie en ná twee goeie drieë was hulle met slegs tien minute speeltyd oor nog met 14-31 agter.

“Eers het die voorspelers ʼn drie gedruk en daarna die agterspelers. Die laaste drie minute het soos ʼn ewigheid gevoel, en toe ʼn QBR-speler op die lyn trap (20 mm) op pad na die doellyn, het die eindfluitjie geblaas.”

Eybers sê ʼn baie ongewone dwarswind het oor die veld gewaai, en ʼn ondersteuner het ná die wedstryd opgemerk dat die veld afdraende moes wees, want al die punte is aan dieselfde kant aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.