Goue Beker bied trap boontoe vir topspelers

Tytham Adams (Foto: SA Rugby)

Nes verlede jaar is die uitblinkers van die afgelope internasionale reeks om die Goue Beker (GB) besig om ʼn trappie hoër te klim danksy die blootstelling wat hul spogvertonings in die reeks hulle besorg het.

Die beste voorspeler in die reeks, Ian Oosthuizen, en die beste agterspeler, Tytham Adams, het as prys die geleentheid gekry om vir die Skotse klub Selkirk te speel, en in dié opsig puik gevaar. Hulle het ook twee keer per week saam met die beroepsklub Edinburg geoefen.

Oosthuizen, wat verlede jaar vir Brakpan in die reeks gespeel het, het pas ʼn kontrak met die Bolandse Kavaliers beklink.

Hy het vir die Panne gehaak, maar vir Selkirk op die flank geskitter. Sy veelsydigheid behoort die Bolanders goed te pas te kom, onder meer omdat hulle hul kookwater-flank Sean Adendorff verloor het.

Adams, ʼn gewese vleuel van College Rovers (Durban), gaan tot aan die einde van die plaaslike liga vir Selkirk speel. Hy het dusver 10 drieë in 13 wedstryde vir die Skotte gedruk.

Ná afloop van die liga sal hy vir die klub in die Skotse klubs se nasionale sewesreeks speel.

Dit word in die vooruitsig gestel dat sy spel die oog van die een van die Skotse franchise’e kan vang en dit hom ʼn vyftienman- of seweskontrak kan besorg.

‘Beter as Supervleuels’

Andersins keer hy middel Mei na Suid-Arika terug, en daar is diegene wat behoort te weet, wat voet by stuk hou dat Adams ʼn beter vleuel is as verskeie van dié wat tans Superrugby speel.

Voorverlede jaar is die belowendste jongeling in die GB-reeks, Garth April, deur die Sharks opgeraap en het hy intussen selfs ʼn slag vir Suid-Afrika se naasbestes uitgedraf.

Duane Heath, die SA Rugbyunie se projekbetuurder vir die GB-reeks, sê dis van deurslaggewende belang vir die prestige van die reeks, én vir die internasionale uitruilprogram, dat Suid-Afrikanse klubspelers sien wie ookal Skotland toe gaan daarvoor toegerus is om die trappie boontoe na beroepsrugby te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.