Goue Beker: etlike sleutelstryde wag Saterdag

Adrian Oosthuizen van Brakpan probeer Graham Knoop van Valsbaai ontwyk. (Foto: Sydney Seshibedi/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Adrian Oosthuizen van Brakpan probeer Graham Knoop van Valsbaai verlede Saterdag op Brakpan ontwyk. (Foto: Sydney Seshibedi/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Verskeie sleutelkragmetings wag Saterdag in die derde wedstrydronde van die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker.

Boonop het Sishen, wat `n loslootjie het, met sy merkwaardige herrysenis ná sy groot slae in die eerste ronde getoon dis roekeloos onverantwoordelik om enige wedstryd op papier te wil beslis.

Twee van die kolligbotsings is in Groep C, loshande die mededingendste van die groepe, met vier van die vyf spanne wat dusver `n wedstryd elk gewen het.

Vir elk van Valsbaai (Westelike Provinsie), Durban Collegians (KwaZulu-Natal), Brakpan (Valke) en Old Georgians (Harare) is dit `n oorlewingstryd, met `n wesenlike verswakking van die twee verloorders se kans om die uitspeelrondes te haal.

♦ Old Georgians speel op sy tuisveld in Harare teen die voorloper, Valsbaai, en sal dié voordeel tot die uiterste wil benut om die Kaapse span onder te sit.

Dit sal hoegenaamd nie maklik wees nie, omdat Valsbaai een van die groter gunstelinge is om die reeks te wen, en sy slae verlede naweek teen Brakpan `n onverwagse terugslag was, wat reggestel moet word.

Robert Harris van Durban Collegians druk `n drie teen Witrivier. (Foto: Steve Haag/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Robert Harris van Durban Collegians druk `n drie verlede Saterdag teen Witrivier op Kingspark. (Foto: Steve Haag/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

♦ Brakpan moet op sy beurt in Durban teen Collegians op sy vroeë sukses voortbou, maar die Durbaniete kan allermins buite rekening gelaat word. Hulle het nes die Panne die afgelope paar jaar `n indrukwekkende rekord opgebou en sal kwaai veg om dit te handhaaf.

♦ In Welkom speel die plaaslike Rovers (Griffons) teen College Rovers van Durban (KZN) in `n wedstryd wat die wenner voorlopig die tweede plek in Groep A sal besorg.

`n Klompie van die voorste puntemakers in die reeks is in die wedstryd in aksie – Welkom se Tiaan van Wyk en Jaco Pretorius, en College se Jandré Jacobs.

Die voorloper en verdedigende kampioen, Durbanville-Bellville (WP), het `n loslootjie.

College Rovers is nog een van die gunstelinge om die reeks te wen, maar die Noord-Vrystaters se sterk vertoning teen Durbell verlede week, laat die indruk dat die Durbaniete nie oor hom sal loop nie.

Butch Nieuwenhuyzen, die sekretaris van Welkom Rovers, het ná die wedstryd aan Pale Toe! gesê Durbell het hom in die eerste helfte op die verkeerde voet betrap, maar die tweede helfte was `n ander storie en was dit nie vir swak afronding nie, kon Rovers meer punte behaal het.

Gysbert van Wyk van Rustenburg-Impala word deur Evergreens vasgevat. (Foto: Petri Oeschger/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Gysbert van Wyk van Rustenburg-Impala word verlede Saterdag in Pacaltsdorp deur Evergreens vasgevat. (Foto: Petri Oeschger/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

“Durbell se sterk voorspelers het goed van die losskrums en losgemale af aangeval en die besoekers het twee drieë gedruk toe Rovers met 14 man moes speel.

“Hulle het ons goed gelooi en `n drie in die vyfde minuut van die tweede helfte het Durbell 29-3 laat voorloop. (Hy het op die ou end 32-24 gewen)

“Daarna het Rovers hulle grootliks in hul eie gebied vasgepen, en kon maklik meer punte aangeteken het, was dit nie vir noodlottige aanslane op deurslaggewende tye nie.

“Durbell verdien egter alle lof vir die moed en verdediging wat hy aan die dag gelê het.

“Rovers het op sy beurt `n ongelooflike sterk karakter en kanniedood-benadering getoon en nooit gaan lê nie.”

Saterdag is die Griffons-kampioen se laaste kans om sy tuisveldvoordeel teen `n kusspan in te span – iets wat hom verder kan aanspoor.

Die KZN-kampioen sal egter nie sommer die knie buig nie.

♦ Pirates (Goue Leeus) draf in Pacaltsdorp teen Evergreens op met die wete dat `n sege teen die SWD-kampioen sy plek in die kwarteindronde verseker.

Hendrik van der Nest van Pretoria Polisie kry Ferdinand Gerber van PE Polisie aan die arm beet. (Foto: Lee Warren/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Hendrik van der Nest van Pretoria Polisie kry Ferdinand Gerber van PE Polisie verlede Vrydag in Pretoria aan die arm beet. (Foto: Lee Warren/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Evergreens het op sy beurt verlede week teen Rustenburg-Impala `n veggees getoon wat die Gautengers nie moet onderskat nie.

♦ Windhoek Wanderers (Namibie) behoort op sy tuisveld teen Northam (Limpopo Blou Bulle) te wen, maar die wete dat `n derde nederlaag hom `n nekslag in die reeks kan toedien, behoort die Bosveldspan tot groter dade aan te vuur.

♦ Op papier behoort Pretoria Polisie (Blou Bulle) met Bloemfontein Polisie (Vrystaat), en Port Elizabeth Polisie (Oostelike Provinsie) met Oos-Londen-Polisie (Grens) af te reken. Dis egter vir die Bloemfonteinse en Oos-Londense Bobbies om op die veld te toon dat papier geduldig is.

♦ Old Selbornian (Grens) en Villagers Worcester (Boland) betwis die agterostitel in Groep A, en behoort `n goeie mededingende wedstryd op te lewer.

Voorste puntemakers

Tiaan van Wyk (Welkom Rovers) is tans die voorste puntemaker in die reeks met 28 punte, `n kortkop voor Tiaan Radyn (Durbell) met 27. Cecil Dumond (Rustenburg-Impala) het 25, Andy Huysamen (Witrivier) 23 en Hanco Deale (Pirates) 21.

Hendrik van der Nest (Pretoria Polisie), Jaco Pretorius (Welkom Rovers) en Jandré Jacobs (College Rovers) het elk drie drieë gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.