Goue Beker: Fel klubstryde gooi reeks wyd oop

Aaron Jeewood van Mappin & Webb oorhandig die gerestoureerde Goue Beker aan die reeks se projekbestuurder, Duane Heath. (Foto: Saru)

Slegs agt van verlede jaar se 20 spanne het die fel mededingende provinsiale klubligas oorleef om vanjaar weer die Goue Bekerreeks te haal, en die deur na die troonkamer staan wyd oop wanneer die reeks Saterdag afskop.

Die enigste spanne wat verlede jaar ook in aksie was, is die verdedigende kampioen, Rustenburg Impala (Luiperds), Bloemfontein Polisie (Vrystaat), Northam Rhinos (Limpopo), Old Georgians van Harare (Zimbabwe), Old Selbornians van Oos-Londen (Grens), Valsbaai (Westelike Provinsie), College Rovers van Durban (KwaZulu-Natal) en Sishen (Griekwas).

Groep A

Impala begin die verdediging van sy titel Saterdag tuis teen Polisie (16:00). Die Vrystaters speel in ʼn baie onmededingende liga en was lanklaas in aksie, sake wat sterk in die kampioen se guns behoort te tel.
Welkom (Griffons) en Sasol van Secunda (Pumas) is twee van die nuwelinge in die reeks en hulle spring in Welkom in dieselfde groep aanmekaar (13:30).

Hulle behoort mekaar goed op te keil.

Groep B

In Groep B speel Vaal Reefs (Luiperds) op Orkney teen Northam, en Old Georgians in Harare teen Raiders (Goue Leeus).

Albei kragmetings (15:00) kan interessante rugby oplewer, met die twee mynspanne wat mekaar na verwagting deeglik sal vasvat.

Raiders tel tussen die vroeë gunstelinge om die reeks te wen, maar die Zimbabwiërs het verlede jaar getoon hulle kan hul man staan, en die besoekers moet hulle nie onderskat nie.

Groep C

Swallows van Mdantsane (promotorskeuse) en Old Selbornians speel in ʼn plaaslike derby in die Buffalostad-stadion in Oos-Londen, en ʼn kwaai tweestryd kan te wagte wees (15:00).

In die ander kragmeting in dié groep speel nog ʼn promotorskeuse Tygerberg (Westelike Provinsie) op Floridapark in Ravensmead, Kaapstad, teen die Oostelike Provinsie se kampioen, Progress van Uitenhage (14:00).

Die wedstryd beloof om kookwater rugby op te lewer en die Oos-Kaaplanders sal moet bontstaan as hulle wil wen.

Groep D

Valsbaai, verlede jaar se naaswenner, het ʼn moeiliker taak as Impala, maar behoort ook Saterdag op sy tuisveld, Phillip Herbsteinpark in Constantia, teen die Bolandse kampioen, Roses United van Wellington, te wen (15:00).

Op Suburbs-park in Khomasdal, Windhoek, speel Western Suburbs (Namibië) teen College Rovers (15:00).

Die tuisspan het verskeie Namibiese toetsspelers in sy geledere, en sal ʼn harde neut wees om te kraak. Die besoekers het nie verlede jaar heeltemal voldoen aan die hoë verwagtinge wat aan hom gestel is nie, en sal vanjaar daarvoor wil vergoed.

Dit kan een van die strafste stryde van die naweek oplewer.

♦ Die Goue Beker, wat 88 jaar gelede deur Mappin & Webb in Londen vervaardig is, is intussen volledig deur die vervaardiger tot sy eertydse glorie gerestoureer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.