Goue Beker-groepe deur Saru bekend gemaak

Garth April, verlede jaar se jong speler van die reeks, in aksie vir die kampioen Durbanville-Bellville. (Foto: Roger Sedres/ImageSA)

Garth April, verlede jaar se jong speler van die reeks, in aksie vir die kampioen Durbanville-Bellville. (Foto: Roger Sedres/ImageSA)

`n Strawwe Wes-Kaapse derby teen Worcester Villagers (Boland) wag op die Goue Beker-kampioen, Durbanville-Belville (Westelike Provinsie), kragtens die bepalings vir vanjaar se oopklubreeks wat Donderdag deur die SA Rugbyunie uitgereik is.

Durbell het as 20ste gekeurde span die nommer een-gekeurde Rustenburg Impala 31-30 in die eindstryd van verlede jaar se reeks – toe nog die Gemeenskapsbeker – geklop.

Die ander spanne in Groep A is Old Selbornians van Grens (wat Durbell verlede jaar in die groepfase geklop het) en Rovers van Welkom (Griffons).

Die tweede gekeurde Impala gaan sake eweneens nie maklik vind teen die nuweling Pirates (Goue Leeus), die dubbele SWD-kampioen, Pacaltsdorp Evergreens, en die nuwe Limpopo-wenner, Northam Rhinos, nie. Die groep sluit ook Wanderers van Windhoek in, wat hoop om verskeie Namibiese Wereldbekerspelers in sy geledere te hê.

Nog `n nuweling, Valsbaai (WP), is die gunsteling in Groep C, wat Durban Collegians (KwaZulu-Natal), Mpumalanga se nuwe kampioen, Witrivier, en die onbevestigde Valke-kampioen (Brakpan het die Peregrineliga gewen) en die Zimbabwese kampioen sal insluit. Laasgenoemde sal na verwagting op 11 Junie aangewys te word.

Groep D is `n Polisie-kampioenskap in die kleine en sluit nie minder nie as drie Bobbie-spanne – Port Elizabeth (wat deur die Oostelike Provinsie benoem is, al het Despatch die liga gewen), Pretoria (Blou Bulle) en Bloemfontein (Vrystaat) – in. Die jare lange Griekwa-kampioen voltooi die groep.

Kragtens die reeks se reëls word die loting deur die finale stand van die vorige reeks bepaal.

Die oorblywende twee plekke sal gevul word uit vanjaar se ligawenners wat nie reeds in aanmerking gekom het nie. Hulle sal onderskeideli in Groep A en D speel.

Die reeks begin Saterdag 10 September.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.