Goue Beker: groot afwagting vir buurspanne

Goue BekerGroot afwagting heers om te verneem watter Namibiese en Zimbabwese klubs later vanjaar aan die oop klubs se nasionale toernooi om die Goue Beker sal deelneem.

In Namibië se geval is dit onseker of deelname deur die 2015- of 2016-ligauitslag bepaal sal word. Wat Zimbabwe betref, moet daar nog uitsluitsel kom oor hoe die deelnemer bepaal sal word.

♦ Die Universiteit van Namibië (Unam) het Wanderers van Windhoek verlede jaar 37-23 in die eindstryd van die land se Premierliga geklop.

Die reeks om die Goue Beker sluit universiteitsklubs uit, dus lyk dit of Wanderers Namibië kan verteenwoordig as die Namibiese Rugbyunie (NRU) besluit om deelname op vanjaar se uitslag te skoei.

Wanderers is `n ou bekende by SA klubs en was in die amateurdae, nes sy buurklub United, `n gewilde bestemming vir SA klubtoerspanne. In die beroepbedeling het sulke toere grootliks onbekostigbaar vir die klubs geword.

Bowenal sal Wanderers onthou word as die klub vir wie die legendariese Springbokflank Jan Ellis lank gespeel het, hoewel hy United verteenwoordig het toe hy die Groen en Goud verwerf het..

Sou die NRU besluit vanjaar se ligauitslag sal die deelname bepaal, moet daar maar geduldig op die afhandeling daarvan gewag word.

♦ `n Geldskaarste het verlede jaar veroorsaak dat Zimbabwe geen nasionale klubkampioen gekroon het nie. Om aan reiskoste te besnoei, is die liga in `n Noordelike en `n Suidelike liga verdeel. Klubs van Harare, Mutare en Chitungwiza het in die Noordelike Superliga gespeel en klubs van Bulawayo, Gweru, Zvishawane en Masvinga in die Middelland-Matabeleland-liga (Mid-Mat).

Die Harare-sportklub (HSC) het die Noordelike Liga gewen deur Old Georgians in die eindstryd te klop.

Voordat koste `n uitsluitende faktor geword het, en toe HSC nog die Salisbury-sportklub was, het SA klubtoerspanne insgelyks gereeld daar gaan kuier.

Die Mid-Mat-liga het gesukkel om van die grond af te kom en dit kon nie vasgestel word of dit wel voltrek is nie.

Matabeleland Busters en Old Miltonians tel onder die voordste klubs in dié gebied. Laasgenoemde het op sy dag die Springbok-kaptein Des van Jaarsveldt en die Bokke Ronnie Hill en Andy MacDonald opgelewer.

`n Woordvoerder van die Zimbabwese Rugbyunie (ZRU) het aan The Herald (Harare) gesê dié liggaam hoop om die nasonale liga weer aan die gang te kry, maar as dit nie slaag nie “beteken dit nie Zimbabwe sonder `n verteenwoordiger in die Goue Bekerreeks sit nie”.

Die webwerf Sportszone reken die twee streekligas sal voortgaan en die ZRU sal uitspeelwedstryde tussen die topspanne moet reël om `n nasionale kampioen an te wys.

Voor onafhanklikheid het Old Hararians `n paar keer aan die destydse jaarlikse SA klubtoernooi in Durban deelgeneem, maar dié klub vaar in die jongste tyd aansienlik swakker as in sy gloriedae toe hy Springbokke soos Ian Robertson en Ray Mordt – en `n groot deel van die destydse Curriebekerspan – in sy geledere gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.