Goue Beker-houer sneuwel in WP-halfeindronde

Die verdedigende kampioen in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale oop klub-reeks om die Goue Beker is in die halfeindronde van die Westelike Provinsie se Superliga A uitgeskakel.

Durbanville-Bellville, wat die Goue Beker ʼn paar jaar gelede verrassend gewen het, het Valsbaai met 19-12 geklop.

Hy speel Saterdag op Nuweland in die eindstryd teen Stellenbosch, wat Unie-Milnerton met 50-32 oorwin het.

Durbell sal as die bond se voorste oop klub die WP in aanstaande jaar se Goue Beker-reeks verteenwoordig.

Paarl en Primrose durf mekaar in die Superliga B se eindstryd aan.

Eersgenoemde het Bellville met 50-27 oorrompel, en laasgenoemde het met 36-24 gewen teen Helderberg, wat boaan die punteleer geëindig het.

In die Superliga C het Macassar vir Kylemore met 46-14 geklop, en Busy Bee vir Goodwood met 27-21, en pak die wenners mekaar in die eindstryd.

Blue Stars United is steeds onoorwonne in die Promosieliga nadat hy Silvertree met 40-24 verslaan het. Morning Star het Polisie met 29-23 ondergesit, en is tweede. Raithby Universals is net een ligapunt agter hom ná sy sege van 34-10 oor Van der Stel-Evergreens.

Wat die Paarlse Top6-liga betref, is Allandale nog voor nadat hy Young Gardens met 56-17 ingespit het.

Tussen die Onderste Ses het Simondium die voortou behou met ʼn naelskraapse oorwinning van 38-36 oor Violets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Schalk Bosman ·

Wil net graag weet wat ‘n “oop” klub is . Is daar ook “toe” klubs ? Verduidelik asb. jul woordgebruik.

Wim van der Berg ·

Naand Schalk
Dankie vir die navraag.
‘n “Oop” klub is vir alle rugbyspelers oop om by te kom speel. Die “toe” klubs vandag is die universiteite, waar net studente van die betrokke universiteit mag speel (en miskien selfs nog ‘n klein aantal klubs landswyd waar net lede van die Polisie en Weermag vir die betrokke klubs kan speel).
Die sogenaamde oop en toe klubs het in die verlede almal aan een nasionale klubkompetisie deelgeneem.
Sedert 2012, grootliks as gevolg van die instelling van die Varsitybeker-reeks in 2008 en die toenemende oorheersing van die provinsiale kompetisies deur universiteite, het die “oop” klubs hul eie nasionale kompetisie.

wolla ·

Verbasend hoe goed Unie-Milnerton doen. Hulle was nog nooit rerig een van die groot honde in WP klubrugby nie. Ek wonder of Ismaeel Dollie hulle nog afrig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.