Goue Beker moet gekoester en uitgebou word

Vonkelwyn uit die Goue Beker vir Graham Knoop, SA se klubspeler van die jaar en kaptein van die oopklubkampioen, Valsbaai. (Foto: Ashley Vlotman/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale oopklubreeks om die Goue Beker moet gekoester en uitgebou word.

Dié reeks, wat die topklubs van Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe insluit, het die afgelope paar jaar die verbeelding, nie net van die betrokke plaaslike gemeenskappe nie, maar van die land se rugbygeesdriftiges oor ʼn wye front aangegryp, en vanjaar was geen uitsondering nie.

Die mededinging op die veld was van die boonste rak, met menige rillerstryd, opwindende en soms skouspelagtige spel, rekordskares, en die spanning oor wie die uitspeelrondes sou haal, wat tot in die laaste ronde voortgeduur het.

Die eindstryd op Valsbaai se Philip Herbsteinveld in Constantia het oor die 4 800 toeskouers gelok, die meeste in die klub se 88-jarige bestaan.

Duane Heath, die projekbestuurder, en sy span helpers het die toernooi tot ʼn spogreeks uitgebou in ʼn omgewing waar alles nie altyd reg vir SA rugby verloop nie.

Die man agter die suksesvolle Goue Bekerreeks: Duane Heath, die projekdirekteur. (Foto: Ashley Vlotman/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Die statuur van die reeks is gevestig. Die fel mededinging in die onderskeie bondsligas om aan die reeks deel te neem, is oorgenoeg bewys daarvan. Dit dra ewe veel gewig – indien nie meer nie – as om die plaaslike ligabeker omhoog te lig.

Watter beter inspuiting kan provinsiale ligas verwag as hierdie wortel wat voor die klubs se neuse geplaas word?

Verskeie van verlede jaar se provinsiale kampioene het nie weer die paal gehaal nie, en daar was 12 nuwelinge in die reeks, nog iets wat spanne aanvuur omdat dit die inklusiwiteit van die reeks beklemtoon.

In dié opsig sal ʼn mens tóg wil sien dat die bonde se ligagleuwe verder met die GB-gleuf gesinkroniseer word sodat uiteindelike provinsiale bekerhouers (universiteite uitgesonder) in die reeks sal speel, en nie hier en daar ʼn span wat dalk ná die rondomtalie boaan die punteleer was, maar in die uitspeelrondes gesneuwel het nie.

Promotorskeuses

Die promotorskeuse Tygerberg se prestasie is ʼn pluimpie vir die organiseerders.

Weens ʼn gebrek aan geld vir ʼn uitdunronde tussen spanne wat tweede in hul bonde geëindig het, was Saru vanjaar genoodsaak om twee promotorskeuses by die reeks in te sluit.

Die liggaam het, wat dit betref, raakgevat deur Tygerberg (Westelike Provinsie) en Swallows (Grens) in te sluit.

Tygerberg het as groepwenner die kwarteind gehaal, en die beste van al die verloorspanne in dié ronde gevaar deur die uiteindelike naaswenner, College Rovers, tot ʼn vierpuntsege te beperk.

Swallows het ʼn derde plek met ʼn punteverskil van slegs nege punte misgeloop en 14de uit die 20 spanne gekom.

Old Georgians (Zimbabwe) se Graham Kaulback in aksie in sy span se sege teen Vaal Reefs. (Foto: Facebook/Old Georgians)

Dit is egter nie die ideale oplossing nie, en ʼn mens sal steeds eerder wil sien dat die geld gevind word (weliswaar makliker gesê as gedoen) om vir ʼn uitdunronde te voorsien. Onthou dis waar Durbanville-Bellville twee jaar gelede sy plekkie uitgeskrop het voor hy die titel op aangrypende wyse gewen het.

Buitelandse spanne

Die insluiting van buitelandse spanne sedert verlede jaar het onteenseglik waarde tot die reeks toegevoeg.

Die geleentheid om klubrugby in die buiteland te speel, het met die koms van die beroepsbedeling grootliks verlore gegaan, en ten respekte hiervan bied die GB-reeks ʼn onskatbare geleentheid aan klubspelers wat hulle tot groter hoogtes behoort aan te spoor.

In die meeste gevalle het die buitelandse spanne hulle tot hiertoe ook nie onbetuig gelaat nie.

Soos verlede jaar het Old Georgians (Zimbabwe) twee uit vier kragmetings gewen, en derde in sy groep geëindig.

Northam Rhinos se kwarteindplek was ʼn merkwaardige prestasie.

Western Suburbs (Namibië) het vanjaar teleurgestel deur al sy wedstryde te verloor en met ʼn negatiewe punteverskil van 102 te eindig; maar al kon Windhoek Wanderers verlede jaar net een uit vier wen, het sy totale punteverskil van -2 oor vier wedstryde getoon dat hy uiters mededingend was.

Geld is weereens die struikelblok, maar die insluiting van Uganda of Madagaskar se kampioene, of albei, kan tot die GB-reeks se aantrekliklikheid bydra.

Kwarteind-eerstelinge

Northam Rhinos het die eerste span uit Limpopo en Sasol Secunda die eerste uit Mpumalanga geword om die kwarteindronde te haal.

Die Rhinos se prestasie is des te merkwaardiger as in ag geneem word dat Limpopo nie ʼn volwaardige bond is nie, en Northam verlede jaar nog op reserweligavlak gespeel het.

Ook kon selfstandige bonde soos Vrystaat (verlede jaar se Curriebekerkampioen), Griekwas (ʼn gereelde deelnemer aan die Curriebekerreeks) en die Griffons (die afgelope twee jaar se Curriebeker-eersteligakampioen) nog nie ʼn kwarteinder oplewer nie.

Van kwarteinders gepraat, die Westelike Provinsie het die afgelope vyf jaar agt opgelewer, gewis ʼn kompliment vir die Streeptruie se topliga, waar uitgelese klubs soos die Maties en die Ikeys as gevolg van die Varsitybekerreeks nie eens vir die reeks in aanmerking kom nie.

Mohammed Damon van Valsbaai sal geen GB-span in die steek laat nie. (Foto: Ashley Vlotman/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Die Blou Bulle, KwaZulu-Natal en die Luiperds het elk vyf opgelewer; die Oostelike Provinsie het vier, die Goue Leeus en die Suidwestelike Distrikte drie elk, die Boland en die Valke twee elk, en die Grens een opgelewer.

TV-beeldsending

Die grootste teleurstelling vanjaar was die gebrek aan TV-dekking van die reeks nadat ondersteuners vorige jare daaraan gewoond geraak het, en selfs klubligawedstryde vanjaar in die aanloop tot die reeks gebeeldsend is.

Met die opwinding om die GB-reeks heen is reikhalsend daarna uitgesien om van die wedstryde op die klein skerm dop te hou, en was die teëval des te groter toe dit nie gebeur nie.

ʼn Gebrek aan geld is die rede, het Supersport aangedui, maar laat ons ʼn knuppel in die hoederhok gooi.

Is dit te veel gevra dat ʼn TV-kanaal wat ʼn wesenlike deel van sy inkomste uit rugby verdien iets in die spel terugploeg?

Chris Jordaan van College Rovers – nog ʼn aanspraakmaker. (Foto: Ashley Vlotman/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Die aanvaarding van sosiale verantwoordelikheid word hoog deur sakeondernemings aangeslaan. Is hierdie nie ʼn wonderlike geleentheid om sodanige aanspreeklikheid na te kom nie?

Of bly dit maar blote lippetaal?

Saru se standpunt dat die GB-wedstryde op klubvelde gespeel word, moet ondersteun word. Onderskraging uit die gemeenskap is die lewensbloed van baie klubs, en sportliggame en gemeenskappe behoort ʼn organiese geheel te vorm.

Voorts kan die vaste vooruitsig van ʼn mate van TV-blootstelling in die reeks grootliks help met die borgwerwing vir klubs.

GB-span

Die ideaal van ʼn gekombineerde GB-span leef voort, en die geld sal hopelik nog gevind word om dit te verwesenlik.

Jaar vir jaar is daar is daar spelers wat in die reeks uittroon, en sodanige erkenning sal nie bloot hul uithalerspel beloon nie, maar sal die reeks se status verder verhoog.

Valsbaai se voorsitter, Kevin Lennett, wens die klub se hoofafrigter, Johnno van der Walt, geluk met sy aanwysing as Suid-Afrika se klubafrigter van die jaar. (Foto: Ashley Vlotman/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Daar bestaan tans ʼn uitruilprogram met die Skotse klub Selkirk wat die kroon vir die topspelers span, maar dit betrek enkelinge.

ʼn Span wat uit die reeks saamgestel word, behoort sy man te staan teen die meeste van die voorste nasionale spanne in die res van Afrika.

Skotland kies reeds ʼn nasionale klubspan wat teen sy Ierse eweknie en die Engelse graafskappespan speel, en met die bestaande Skotse bande is ʼn moontlike wedstryd teen dié span seker nie te vergesog nie.

Dis eintlik ʼn jammerte só ʼn span is nie vanjaar al saamgestel is nie, want waar wil ʼn mens ʼn knapper paar as Valsbaai se kaptein, Graham Knoop (die SA klubspeler van die jaar), en afrigter, Johnno van der Walt (SA se klubafrigter van die jaar), kry om ʼn GB-span te lei en te brei.

Mikpunte

Daar is dus op die oog af ʼn paar opboumikpunte om oor die kort termyn na te streef: gewaarborgde TV-uitsendings van geselekteerde kragmetings; meer uitgebreide internasionale betrokkenheid en/of ʼn uitdunreeks om die bykomende twee plekke in die reeks te vul; en die kies van ʼn Goue Bekerspan vir internasionale deelname.

… maar ai, die geld …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

Volgende jaar se Goue Beker reeds in gevaar weens geldtekort. Indien nuwe borg nie gekry word nie is dit van die baan. Ons sal dringend na amateurrugby moet kyk.

Lyndon Julius ·

Goeie dag. Net een, maar tog belangrike komentaar oor die TV uitsending. WP het wel ‘n TV kanaal wat slegs fokus op klub rugby, dis nou in sy 7de jaaar van bestaan. Cape Rugby TV is ‘n program wat fokus op alle klub rugby spanne in die WP (meer as 100 klubs) se liedere. Skakel gerus in op kanaal 263, DSTV, Cape Town TV of check die youtube.com kanaal uit. Groetnis

Nico K ·

Dit is lekker om ‘n eg plattelandse span soos Rhinos te sien presteer. Sishen is seker ook plattelands. Ek wonder wie onthou nog toe Amasol, ‘n klein myndorpie naby Postmasburg, jare lank Griekwas se klubkampioen was. Blykbaar het dit daar baie getel as jy rugbyspeler op jou CV geskryf het. (Dit was toe rugby nog streng amateur was.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.