Goue Beker: naelskraap is die eindstryd-norm

goue bekerNaelskraapse seges was dusver die norm in die eindstryde om die oop klubs se Goue Beker (voorheen die Gemeenskapsbeker).

Despatch het die eerste van die reekse in 2013 gewen deur College Rovers 26-24 te klop; Rustenburg Impala was in 2014 13-11 aan die wenkant teen Roodepoort; en Durbanville-Bellville het verlede jaar 31-30 teen Impala deurgeskraap.

Impala (Luiperds) speel Saterdag op sy tuisveld in sy derde opeenvolgende eindstryd as hy die Noorde se vaandel in die stryd teen die Suide se Valsbaai (Westelike Provinsie) dra.

Of dié twee superklubs – en daar is geen twyfel nie dat die albei spanne in die klas val – die naelskou-tradisie kan voortsit, sal gesien moet word, maar dat dit `n meedoënlose stryd sal wees, kan kwalik betwyfel word.

Valsbaai het in die kwarteindronde met fyn beplanning die struikelblok van die dun Hoëveldse lug op Loftus Versfeld te bowe gekom, en Durbell het sy titel verlede jaar op Rustenburg gewen. Dit lyk dus of die hoogtefaktor danksy die aanwending van plaasvervangers spanne nie meer so erg knelter nie.

Albei spanne is bedrewe in die beproefde resep van sagmaak voor en dan agter slaan, en dit sal na alle waarskynlikheid aan die orde wees.

`n Mens wil vertrou dat die wedstryd darem ook sy deel aan skouspelagtige rugby sal oplewer.

Sewe van die nege voorste driedriedrukkers is in aksie: Leon du Plessis (7), Cecil Dumond, Bruce Muller en Nico Kruger (5 elk) aan die kant van die tuisspan; en Danie Roux (7), Mustaqeem Jappie en Riaan O’Niell (6 elk) aan die kant van die besoekers.

Dit val op dat Impala se voorste driedrukkers op tienmanrugby dui, terwyl Valsbaai s’n almal tussen die snellers tel.

Du Plessis, verlede jaar die speler van die reeks, is luidens berigte goed op pad om `n tweekuns in die opsig te behaal en kan `n sleutelrol in die uitslag speel.

Die losskakels Cecil Dumond van Impala (86) en Andri Claassen van Valsbaai (73) is die reeks se voorste puntemakers en dit kan verwag word dat hulle ook hul stempel op die kragmeting sal afdruk.

Die wedstryd, wat 15:30 afskop, word op Supersport (Kanaal 201) gebeeldsaai.

Die puntemakers –

Rustenburg Impala: 15. Xolani Nkosi, 14. Dumisani Matyeshana, 13. Justin St Jerry, 12. Berto van Wyk, 11. Maverick van der Merwe, 10. Cecil Dumond, 9. Nico Kruger, 8. Leon du Plessis, 7. Justin Wheeler (kaptein), 6. Tiaan Prinsloo, 5. Tiaan Nel, 4. Robbie Rawlins, 3. Zander de Kock, 2. Bruce Muller, 1. Louis Hollamby. Bank: 16. Gavin Williamson, 17. Ivann Espag, 18. Joe Engelbrecht, 19. JP le Grange, 20. Stefan Kruger, 21. Francois van Biljon, 22. McDonald Duma.

Valsbaai: 15. Adnaan Osman, 14. Danie Roux, 13. Byron Mohr, 12. Riaan O’Neill, 11. Mustaqeem Jappie, 10. Andri Claassen, 9. Mohammed Damon, 8. Ryan Olivier, 7. Justin van Winkel, 6. Aiden Monk, 5. Brandon Wood, 4. Graham Knoop (kaptein), 3. Ashley Wells, 2. André van Vuuren, 1. Wesley Futter. Bank: 16. Dasch Barber, 17. Royal Mwale, 18. Willie Coetzee, 19. Curtley Johnson, 20. Dylon Frylinck, 21. Jason Pretorius, 22. Roemark Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.