Goue Beker: slag in eerste helfte gelewer

Valsbaai – 2017 se Goue Beker-kampioen. (Foto: Ashley Vlotman/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Teen die verwagting in is die slag in die eindstryd van die SA Rugbyunie (Saru) se reeks om die Goue Beker (GB) Saterdag in Kaapstad eintlik reeds in die eerste helfte gelewer.

Dit het egter geen afbreuk aan ʼn skouspelagtige en opwindende kragmeting gedoen nie.

Valsbaai (Westelike Provinsie) was rustyd reeds met 20-10 voor teen College Rovers (KwaZulu-Natal), en het uiteindelik met 30-18 as oopklubkampioen uit die stryd getree.

Die wenspan het vier drieë – drie daarvan voor rustyd – teen twee gedruk.

Rovers het weliswaar eerste bloed geruik toe Gavin Scott met ʼn strafdoel geslaag het, maar Valsbaai het hom vinnig verbygesteek, danksy ʼn drie deur Taps Tsomondo, die WP se klubspeler van die jaar, en was ná 32 minute met 17-10 voor.

Met die punteverskil 14 minute voor die eindfluitjie op tien (23-13) kon die KwaZulu-Natallers dalk nog terugveg, maar ʼn drie deur Danie Roux, Valsbaai se regtervleuel, verdoel deur Adnaan Osman het op die ou end die uitslag buite Rovers se bereik geplaas.

ʼn Mens wonder nogal watter uitwerking die nege vlugte in sewe weke op die Durbaniete se spel kon gehad het.

Benewens die twee wegwedstryde in die groepfase (Windhoek en Sishen) moes hulle die afgelope twee weke ʼn kwarteindstryd in Kaapstad en ʼn halfeindstryd in Pretoria speel – en dit alles te wyte aan ʼn nederlaag met ʼn enkele punt teen Valsbaai wat hulle ʼn tuiskwarteind ontsê het.

Beter kan die waarde van die topsport op die punteleer seker nie beklemtoon word nie.

Die puntemakers –

Valsbaai 30 (20) – Drieë: Taps Tsomondo, Marcello Sampson, Danie Roux (2). Doelskoppe: Adnaan Osman (2). Strafdoele: Adnaan Osman, Meryck Ward.

College Rovers 18 (10) – Drieë: Chris Jordaan, Grant Rattray. Doelskop: Gavin Scott. Strafdoele: Gavin Scott (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.