Goue Beker-stryd verwoed in Groep C

Saterdag se strafste Goue Bekerbotsings kan in Groep C verwag word, waar ʼn verwoede stryd woed en die kwarteinders allermins ʼn uitgemaakte saak is.

Die voorloper, Swallows (Grens), speel in die Kaap in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale oopklubreeks teen die Westelike Provinsie se Tygerberg (vierde uit vyf spanne), wat met ʼn oortuigende oorwinning steeds die span van Mdantsane kan verbysteek.

Sou dit op sigself nie genoeg aansporing vir die Tiere wees nie, is daar ook nog Floridapark se gedugte ondersteuners waarmee die besoekers rekening sal moet hou.

Progress George (Suidwestelike Distrikte) speel op Rosemore om die groepleiding oor te neem, sou Swallows vasval.

Al speel hy teen die agteros, Old Selbornians (Grens), sal dit hom loon om in gedagte te hou dat Old Boys sy twee wedstryde tot dusver elk met ʼn enkele punt verloor het.

Groep A

Sasol van Secunda (Pumas) speel op sy tuisveld in Groep A teen Bloemfontein Polisie (Vrystaat), en behoort die groepfase onoorwonne af te sluit.

Vereeniging (Valke) sal Welkom (Griffons) baie oortuigend op laasgenoemde se tuisveld moet klop as hy sy kans in die reeks lewend wil hou.

Groep B

In Groep B behoort Quins-Bobbies-rugby (Blou Bulle) sy plek in die kwarteindronde te verseker wanneer hy op sy tuisveld teen Raiders (Goue Leeus) te staan kom.

Alles dui daarop dat hy eenvoudig te veel skietgoed vir die Johannesburgers het.

Die wedstryd op Klerksdorp tussen Vaal Reefs (Luiperds) en Old Georgians (Zimbabwe) kan nie meer ʼn uitwerking op die uitspeelfase hê nie, maar spantrots behoort steeds vir ʼn baie mededingende kragmeting te sorg.

Groep D

Sowel College Rovers (KwaZulu-Natal) as Valsbaai (WP) is onoorwonne in Groep D, en albei behoort hul plek in die kwarteindronde te beklink.

Ongeag die lang reis Kathu toe en die anderse klimaat behoort Rovers met Sishen (Griekwas) klaar te speel; en op grond van sy vertonings tot dusver kan Western Suburbs (Namibië) nie verwag om verlede jaar se naaswenner op eie werf in Constantia te troef nie.

Afskoptye –

Saterdag

15:00 QBR teen Raiders, Harlequin-klub, Groenkloof.

15:00 Vaal Reefs teen Old Georgians, Hoërskool Klerksdorp.

15:00 Progress George teen Old Selbornians, Rosemore, George.

15:00 Tygerberg teen Swallows, Floridapark, Ravensmead.

15:00 Sishen teen College Rovers, Sivos-stadion, Kathu.

15:00 Valsbaai teen Western Suburbs, Philip Herbstein-park, Constantia.

15:30 Sasol teen Bloemfontein Polisie, Sasol-ontspanningsklub, Secunda.

16:00 Welkom teen Vereeniging, Noordwes-stadion, Welkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.