Goue Beker: vegter verteenwoordig Zimbabwe

Old Georgians van Harare verteenwoordig Zimbabwe in die reeks om die Goue Beker. (Foto: Facebook)

Old Georgians van Harare verteenwoordig Zimbabwe in die reeks om die Goue Beker. (Foto: Facebook)

Die span wat Zimbabwe later vanjaar in die oop klubs se eerste internasionale reeks om die Goue Beker verteenwoordig, moes Saterdag groot veggees aan die dag lê om `n vurige teenstander onder te sit.

Old Georgians (OG) het sy Hararese buurman, die welbekende Old Hararians (OH), 39-17 in die eindstryd op die Polisieveld in Harare geklop om vir die reeks in aanmerking te kom.

Hy is ook die Zimbabwese seweskampioen.

Die klub verleen nou saam met Wanderers van Windhoek internasionale kleur aan die reeks om die die Goue Beker wat die afgelope paar jaar in `n puik toonvenster vir SA klubrugby ontwikkel het.

Luidens berigte moet Old Georgians alles uithaal om `n aangevuurde Old Hararians te oorwin, wat ondanks die afwesigheid van verskeie staatmakers manhaftig gestry het.

The Standard berig die verloorspan se fiksheid het hom uiteindelik in die steek gelaat en OG toegelaat om die oorhand in die tweede helfte te kry.

Die wenspan se afrigter, Grant Mitchell, het aan die koerant gesê sy span is gereed vir die taak wat in die reeks om die Goue Beker op hom wag.

Mitchell, `n eertydse Zimbabwese toetsspeler en gewese hoof- uitvoerende beampte van die Zimbabwese Rugbyunie (ZRU), is een van die suksesvolste afrigters in die land.

OG, wat in Groep C geplaas is, se eerste wedstryd is 10 September teen Witrivier, die Mpumalanga-kampioen, op Witrivier. Dan volg Valsbaai, die Westelike Provinsie se top- oop klub, 24 September in Harare; en 1 Oktober speel die KwaZulu-Natalse Moorbeker-kampioen, Durban Collegians, eweneens in Harare. Die Zimbawiërs se vierde wedstryd is 8 Oktober weg teen die Valke-kampioen, wat nog bepaal moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.