Goue Beker verras uit die staanspoor

Danie Roux – vier drieë. (Foto: Gallo Images/SA Rugby)

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se internasionale reeks om die Goue Beker het sommer uit die staanspoor Saterdag ʼn paar groot verrassings opgelewer.

Die grootste hiervan is waarskynlik die Zimbabwiese kampioen, Old Georgians, se oortuigende sege in Harare van 57-36 oor die Goue Leeus se Raiders, wat as een van die gunstelinge beskou word om die reeks te wen.

Veral swak dissipline het die Gautengse span gekelder, en die OG-linkervleuel, Jafnos Chiwanza, se 32 punte het benewens vier doelskoppe nie minder nie as agt strafdoele ingesluit.

Raiders se linkervleuel, Itumeleng Mpete, het drie van sy span se vyf drieë gedruk.

♦ In Oos-Londen het Swallows van Mdantsane vroeg-vroeg sy insluiting as promotorskeuse geregverdig deur die Grens-kampioen, Old Selbornians, met 25-24 te klop.

Old Boys was rustyd met 12-10 voor.

♦ Sasol van Secunda (Pumas) het onverwags ver gewen toe hy Welkom (Griffons) op dié se tuisveld in ʼn magtige terugvegpoging met 40-24 verslaan het.

Die tuisspan was rustyd met 17-7 voor.

Jan van der Merwe (linkervleuel) het 20 van die wenspan se punte met twee drieë en vyf doelskoppe behaal.

♦ Northam Rinos, wat verlede jaar nog tweedevlakrugby in Limpopo gespeel het, het eweneens in ʼn mate verras deur Vaal Reefs (Luiperds) op dié se tuiswerf in Orkney, met 27-21 te klop.

♦ Die verdedigende kampioen, Rustenburg Impala, het weliswaar op sy tuisveld met 28-10 teen Bloemfontein Polisie gewen, maar ʼn mens sou ’n oortuigender oorwinning van die titelhouer verwag.

♦ Verlede jaar se naaswenner, Valsbaai, het met die intrapslag getoon dat hy vanjaar moeilik gestuit sal word, deur die Bolandse kampioen, Roses United, met 43-19 te oorrompel (rustyd 24-7).

Die Baai se regtervleuel Danie Roux het vier van sy span se sewe drieë gedruk.

♦ College Rovers het ook ʼn waarskuwing gerig deur Western Suburbs (Namibië) in Khomasdal, Windhoek, met 46-17 te dril.

Puntemakers –

Old Georgians 57 (21) – Drieë: Fortunate Chipendu, Lenience Tambwera, Takudzwa Chieza, Tafadzwa Mukonyora, Graham Cochrane. Doelskoppe: Jafnos Chiwanza (4). Strafdoele: Jafnos Chiwanza (8).

Raiders 36 (10) – Drieë: Anele Magubane, Itumeleng Mpete (3), Ashwill Adams. Doelskoppe: Chanwill October (3), Chanleigh Williams. Strafdoel: Chanwille October.

Swallows 25 (10) – Drieë: Aphiwe Stemele, Siyasanga Pati (2), Thobela Macwili. Doelskop: Thobela Macwili. Strafdoel: Thobela Macwili.

Old Selbornians 24 (12) – Drieë: Brent Wienand, Joshua Bassingthwaighte, Duran Alberts, Dylan Pieterse. Doelskoppe: Ndima Gwavu (2).

Welkom 24 (17) – Drieë: Quinton Davis, Wayven Smith, Kelvano King, Mackie Pelser. Doelskoppe: Kelvano King, Ryno Venter.

Sasol 40 (7) – Drieë: Willa Martin, Jannie van der Merwe (2), Lennie Vergottini, Michael van Vuren, Rian Boshoff. Doelskoppe: Jannie van der Merwe (5).

Valsbaai 43 (24) – Drieë: Taps Tsomondo, Ryan Olivier, Danie Roux (4), Mustaqeem Jappie. Doelskoppe: Adnaan Osman (4).

Roses United 19 (7) – Drieë: Johnwen Lewis, El-shaun Davids, Damian Engledoe. Doelskoppe: Jacquin Jansen (2).

Opgesomde punteleer –

Groep A

Impala 5, Sasol 5, Welkom 1, Bloemfontein Polisie 0, Vereeniging 0.

Groep B

Old Georgians 5, Northam 4, Vaal Reefs 1, Raiders 1, QBR 0.

Groep C

Swallows 5, Old Selbornians 2, Progress George 0, Tygerberg 0, Progress Uitenhage 0.

Groep D

College Rovers 5, Valsbaai 5, Roses United 0, Sishen 0, Western Suburbs 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marionette Jacobs ·

Swak skeidregter en Lynregter by Imapala en Bloemfontein Polisie Goldcup wedstryd !!!
Daar is tenminste 2 drieë van Impala wat nie drieë was nie !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.