Goue Beker: voorspellings sal gek wees

Worcester Villagers teen Welkom Rovers op TV.

Worcester Villagers teen Welkom Rovers op TV.

Dit sal gek wees om te wil voorspel wie Saterdag die eerste naweek se groepwedstryde in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale reeks tussen die top- oop klubs om die Goue Beker sal wen.

Al wat seker is, is dat `n klompie klipharde kragmetings by klubs oor die land heen uitgespook sal word, en dat toeskouers selde teleurgestel sal word.

Verlede jaar se opwindende reeks het getoon dat klubrugby die afgelope paar jaar baie goed herstel het van die aanvanklike knou wat hy in die beroepsbedeling gekry het.

Namibië en Zimbabwe se voorste oop klubs is vanjaar by die reeks ingesluit en dit sal interessant wees om te sien hoe hulle vaar.

Die reeks vind die eerste keer aan die einde van die seisoen plaas, en as `n oorgangsreëling is die meeste spanne kragtens hul 2015-vertonings ingesluit – `n faktor waarvan die effek nog bepaal moet word.

Die meeste deelnemers was `n maand of langer sonder wedstrydoefening, en die uitwerking hiervan sal ook eers Saterdag blyk.

Kampioen pak sy nemesis

♦ Die heersende kampioen, Durbanville-Bellville (Westelike Provinsie), pak Old Selbornians van Oos-Londen (Grens) in Groep A.

Nes verlede jaar toe Old Boys die enigste span was wat Durbell in die reeks kon klop, vind die wedstryd op die Durbies se tuisveld plaas.

Die bekerhouer se bestuur, afrigtingspan en spelersgroep verskil aanmerklik van verlede s’n, wat sy vertoning in `n onvoorspelbare groep selfs moeiliker maak om te voorsien.

Durbell se ondervoorsitter, Darron Nagel, sê dit sal deurslaggewend vir sy span wees om op `n positiewe noot af te skop.

Op TV

♦ Die grootste deel van die aandag sal waarskynlik gevestig wees op die wedstryd in Groep A tussen Villagers van Worcester (Boland) en Rovers van Welkom (Griffons) wat regstreeks deur Supersport 1 en HD gebeeldsend word.

Villagers het onlangs byna 10 000 toeskouers na `n plaaslike klubderby op Bolandpark gelok en die Noord-Vrystaters sal sterk met die tuisskare rekening moet hou.

Rovers het vanjaar strawwer teenstand in sy tuisliga ervaar met die insluiting van twee Luiperds-klubs, en behoort beter voorbereid as in die verlede te wees.

Die afskop is om 14:45.

Gunstelinge bots

♦ Nog `n wedstryd wat groter as die normale belangstelling behoort te lok, is dié in Groep C tussen Valsbaai (Westelike Provinsie) en Durban Collegians (KwaZulu-Natal), twee van die gunstelinge om die reeks te wen.

Die kragmeting op Philip Herbsteinpark in Constantia het al die elemente om skouspelagtige rugby op te lewer.

Onbenydenswaardig

♦ In Groep B het Wanderers van Windhoek (Namibië) die onbenydenswaardige taak om sy eerste wedstryd weg teen Pirates (Goue Leeus) te speel.

Die span van Greenside het die afgelope twee seisoene indrukwekkend gevaar en is nog een van die gustelinge.

Dawid teen Goliat

♦ Die ander wedstryd in Groep B op Northam is `n ware geval van Dawid en Goliat.

Northam (Limpopo Blou Bulle) is vir alle praktiese doeleindes `n tweedeligaklub, terwyl Rustenburg Impala (Luiperds) – `n gewese oopklubkampioen en verlede jaar se naaswenner – te sterk vir sy plaaslike liga is en in die Blou Bulle se Carltonreeks meeding.

Impala kan egter seker wees Northam het sy klippies mooi uitgesoek, en hy kan nie waag om die tuisspan te onderskat nie.

Onpeilbaarste

♦ Saterdag se onpeilbaarste wedstryd is dalk die een op Witrivier in Groep C tussen die tuisspan, die Pumas se 2015-kampioen, en Old Georgians van Harare, Zimbabwe se 2016-kampioen.

Witrivier sal die afgelope ligaseisoen eerder wil vergeet, en kan die Goue Bekerreeks aangryp om sy beeld te probeer herstel.

Zimbabwese klubrugby het die afgelope paar seisoene insgelyks `n nagmerrietyd beleef (sy klubreeks is by geleentheid opgeskort omdat daar nie geld voor was nie) en Old Georgians sal moet toon dat hy op hierdie vlak mededingend kan wees.

Spoke wegja

♦ Nog twee spanne wat die spoke van die verlede sal wil wegja, is Sishen (Griekwas) en Pretoria Polisie (Blou Bulle) wat op Kathu in Groep D kragte meet.

Sishen, het weliswaar die Griekwas se Superliga gewen, maar moes die klub vanjaar van nuuts af herbou, deurdat die sluiting van myne en verminderde werkgeleenthede sy hart uitgeruk het.

Hy was verlede jaar seker die ongelukkigste van almal in die nasionale reeks. Hoewel hy geen wedstryd kon wen nie, is hy elke keer net-net geklop.

Polisie, verlede jaar se Plaatwenner, het vanjaar `n teleurstellend wisselvallige Carltonseisoen beleef en is in die halfeindstryd deur die uiteindelike wenner, Centurion, geklop.

Mini-Polisiekampioenskap

♦ In die eerste wedstryd in Groep D se “Polisiekampioenskap in die kleine” (daar is vier Bobbies-spanne in die groep) speel Port Elizabeth Polisie (Oostelike Provinsie) tuis teen Bloemfontein Polisie (Vrystaat).

Albei spanne behoort redelik honger vir `n sege te wees, met die tuisveldvoordeel wat dalk die skaal in die Baaise Bobbies se guns kan swaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.